Reën laat reuse slakke uit hul dop kruip

Dit het weer lekker in die Thabazimbi-bosveld gereën en daarmee saam het die Reuse Afrika Landslak ook uit hul wegkruipplekke gekom.

Mens wonder altyd waar hierdie slakke, Achatina fulica, gedurende die droë maande wegkruip want die kleintjies sien jy nooit. As jy maar weer kyk is hierdie reuse slak deel van jou tuin. Die rede hiervoor is dat hulle vir etlike maande binne hul skulp kan bly en hul metabolisme verlaag sodat hulle nie veel van hul reserwe voedsel hoef te gebruik nie.

Gedurende tye van droogte kan hulle hulself met ‘n laag van slym omhul wat hulle in staat stel om tot 3 jaar te inhibeer.

Hierdie slakke het ‘n gemiddelde leeftyd van 5 tot 7 jaar en wanneer daar genoeg voedsel is, tot 10 jaar.

Die Achatina fulica is een van die grootste indringers spesies in die wêreld en die Departement van Landbou in die Verenigde State beskou dit as een van die mees skadelikste spesies vir die landbou en oeste in Amerika. Dit is bekend dat dit ten minste 500 verskillende plantspesies eet.

Die slakke se skulp kan tot 19 cm lank word met hoogte van tussen 6 en 9 cm. ‘n Volwasse slak weeg omtrent 32 gram. Die skulp het dan ook 7 tot 9 spirale wat sigbaar aan die buitekant is. Die slak het vier voelers waarvan die oë op die punte van die twee langste voelers aangetref word.

Die massiewe voet skei slym af om weerstand te verminder soos dit oor ‘n oppervlak beweeg.
Die skulp is letterlik sy skuiling om vir sy vyande weg te kruip. Hulle kruip ook hierin weg as die temperatuur te laag daal, miskien die rede dat dit reeds feitlik oor die hele aardbol, buiten Antartika, versprei is.

Die reuse slakke eet omtrent alles en diskrimineer nie tussen lewendige en dooie weefsel nie. Hulle kan ‘n pes raak in oeste soos blomkool, papaja, grondboontjies piesang, en talle ander groente wat kommersieel verbou word.

Die slak benodig daarby kalsium om sy skulp te laat groei, die rede vir die wye dieet – net om genoeg kalsium in te neem – en sal dit ook bene van karkasse as bron vir kalsium benut.

Die slakke is aktief in die nag en gedurende die dag begrawe hulle hulself om vir hul vyande weg te kruip. Dit is beslis nie ‘n baie sosiale spesie nie en bly die slak sy lewe lank enkeling, buiten vir die tyd dat paring plaasvind.

Slakke is hermafrodiete wat beteken dat hulle oor beide manlike en vroulike geslagsorgane beskik. Die funksie om hulself te bevrug is nie die norm nie en tradisionele paring vind meestal plaas waar hulle selfs mekaar se eiers kan bevrug.

Jong slakke skei oor die algemeen sperms af terwyl ouer slakke die funksie ontwikkel om eiers te lê.
Die slakke kan verskeie peste na diere en mense oordra, nie net alleen vir al die gif wat dit deur die jare met sy voet versamel nie, maar ook deur parasiete wat dit kan oordra.

Alhoewel hierdie slakke onder higiëniese toestande gekweek word vir menslike gebruik omdat hulle so vinnig groei, is dit alles behalwe raadsaam om een in jou tuin te probeer eet aangesien jy jou gesondheid groot skade berokken, en dit dalk jou lewe kan kos as gevolg van voorafgenoemde gifstowwe en peste wat dit kan oordra.

Steeds het die slak sy rol wat hy in die ekologie in Afrika vervul. Nog nooit het ek enige van hierdie slakke in my tuin aangetref waar die plante ooglopend deur hulle verniel is nie. Moet hulle dus nie net vir die pret vermorsel nie. Alles in die ekosisteem waarin ons onsself bevind het ‘n rol om te vertolk.

Artikel deur Pieter Coetzee – Bron: www.snail-world.com/african-giant-snail/