Nuus van orals – Oryx helikopter stort neer op N1

‘n Oryx helikopter van die Suid-Afrikaanse Lugmag, vermoedelik verbonde aan 22 eskader, het vanmiddag, Sondag 10 Desember, op die N1 snelweg tussen Worcester en die Hugenote tonnel naby die Paarl neergestort.

Volgens ‘n woordvoerder van ER24, Russel Meiring, wat die ongeluk bevestig het, is een persoon ernstig beseer terwyl sewe ander insittendes lig tot nie ernstig beseer is.

Die Wes Kaapse Verkeershoof, Kenny Africa, het die geval bevestig en die gevolglike sluiting van die Du Toitskloof Pas as gevolg hiervan.

As gevolg van vliegtuigbrandstof op die padoppervlak sal nie net die N1 nie, maar dalk ook ander paaie in die nabyheid van die ongeluk, gesluit word.

Vroeë berigte lui dat die helikopter vermoedelik in oorhoofse kragkabels vasgevlieg het, maar dit sal eers bevestig kan word nadat die ondersoek afgehandel is.

Motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes vanaf Worcester na Kaapstad via Villiersdorp, Grabouw of Wolseley Tulbagh, Wellington te neem.

Foto’s: Traffic SA