Die Kwêvoël

Koekies vir Kleinkinders plaas Thabazimbi op die wêreldkaart

Wat begin het as ‘n stokperdjie, het uiteindelik gedraai tot ‘n wyse om te oorleef in Suid-Afrika se swak ekonomiese toestande, tot ‘n leerskool vir toekomstige entrepreneurs om op hul eie hul ekonomiese oorlewing te verseker.

Gerrie Muller, skoonheidsdeskundige en jare-lange inwoner van Thabazimbi met haar eie skoonheidsalon, Salon Classic Touch, het op hierdie gebied reeds haar naam gevestig.

Met die afswaai in die ekonomie het sy besluit om vir haar eie kleinkinders koekies te bak op die grondslag van die Iced Zoo koekies wat op die winkelrakke beskikbaar was.

Sy het haar eie brosbrood-koekieresep uitgehaal en haar kunstige talent na vore laat tree om die koekies met klassieke versiersuiker, volgens haar eie resep, te versier met die tema karakters van die kleinkinders se verjaarsdag partytjies.

Dit het baie gewild geraak en dit was nie lank nie of sy het koekies versier om vanaf die doop, eerste en opvolgende verjaarsdae in te pas.

Met die loop van tyd het sy verskeie deegvormpies aangekoop om by verskillende geleenthede te pas. Sy het gou agter gekom dat die beste grootte om mee te werk vorms wat ongeveer 5 x 7 cm groot is.
Hieronder is hartjievormige vorms wat nie net tydens Valentynsdae handig te pas kom nie, maar ook as ‘n herinnering aan troues met of ‘n stukkie kant trourok-versiering vir die vrouens en ‘n tuxedo op die selfde koekie vir die mans.

Soos sy self sê, “Gee vrye teuels aan jou verbeelding en pas die vorm aan om by jou behoefte aan te pas.”
So kry jy dalk ‘n Kersfeeskoekie as ‘n takbokversiering en omgedraai maak jy daarvan ‘n Gemmerbrood mannetjie.

So terloops, die klas wat sy aangebied het was juis gemik op Kersfees en in plaas van onpersoonlike balle en diertjies aan die kersboom, kan mens eerder jou kersboom met hierdie koekies versier, terug na die vroeë dae van kersboom-versierings. Die verskeidenheid van Kersfeeskleure maak dit ‘n baie vrolike kersboom.

Gerrie is reeds vier jaar besig met hierdie bedryf en voer reeds haar produkte wêreldwyd uit, dit sonder ‘n professionele kombuis, net sy en Sanna, haar huishulp en meester baksternet met haar huis se kombuis tot hulle beskikking.

Die vrouens en kinders wat Saterdag die werksessie bygewoon het is agter van links: Gerrie (aanbieder), Estelle, Amanda, Gerdie, Glaudina (sittend) en Sulé. Voor van links: Famke, Sheries, Marli, Daleen, Anita en Carol.

In die begin was dit maar ‘n gesukkel om die deeg tot ‘n eenvormige dikte uit te rol. Dit is waar manlief, Johan, ingespring het en ‘n spesiale deeguitrolbord ontwerp het wat gesorg het vir eenvormige dikte deeg. Daarmee saam het hy bepaal wat die optimum dikte is en die baktyd om die perfekte koekie te kry.

Gou het hulle ‘n produksielyn ontwerp waarmee sy koekies by die honderde in haar kombuis kon produseer.

Gerrie sê snaaks genoeg was dit juis hierdie deeguitrolbord wat vir haar eerste oorsese uitvoere gesorg het. Mense in Kanada het op haar Facebook-blad afgekom en van die borde bestel.

Hierdie borde is dan ook geskik om deeg perfek uit te rol vir konfyttertjies asook die fondant-versiersuiker wat vir groot koeke asook vir hulle spesiale logo-koekies gebruik word.

Van haar kliënte wat besigheid-logo-koekies gereeld bestel is sluit in besighede wat huisverbande reël, koffiewinkels en hotelgroepe. Sy ontwerp self haar deeg-uitdrukkers en die wat sy nie self kan maak nie verwys sy na ‘n vervaardiger wat dit vir haar maak.

Intussen het dit nie net meer by koekies vir die kleinkinders gebly nie en ontwerp en maak sy spesiale koekies vir dames-tee dae, kanker-dae en wat die geleentheid ook al is.

Haar eerste groot blootstelling op TV was met die program Mooiloop waarvan een episode met Valiant Swart as aanbieder, op Thabazimbi geskiet is.

Gerrie voel haarself ook as entrepreneur geroepe om vaardigheidsopleiding aan mense wat hulle werk verloor het as gevolg van die sluiting van ondermeer Kumba op Thabazimbi, geleentheid te bied om op hul eie as entrepreneurs ‘n bestaan te maak.

Sy moedig dan ook die mense wat haar klasse bywoon om self hul eie tuisbedryf op die been te bring en by hul eie stalletjies tydens verkopings, soos by Pondok, hul eie skeppings te verkoop.

Hierdie is ‘n bedryf waar vaardigheid en oorspronklikheid ‘n groot rol speel. “Tydens klasse versier elke nuwe persoon sowat 10 koekies in twee ure. Om dit winsgewend te bedryf, veral met die oog op ‘n wye mark, moet jy sowat 100 koekies in een uur versier”, sê Gerrie.
Uiteindelik bereik jy dit met harde werk en met tyd. Soos hul sê, “Na 10 000 keer van die selfde ding doen, word dit makliker”.

Steeds is Johan daar, nie net om vir die heerlikste Chremora-tert na afloop van die klas te sorg nie, maar ook om aan jou ‘n besigheidsplan voor te lê om die bedryf produktief tot die maksimum effektiwiteit toe te pas.

Gerrie bied reeds klasse ook op Lephalale aan en beplan groot dinge vir volgende jaar. Hieronder is om ook klasse in Pretoria, waar daar groot navrae bestaan, aan te bied.