Coenie verras talle by KunsteGrot

Die ganse propvol teater van besoekers aan die KunsteGrot op Thabazimbi is Vrydagaand 10 November 2017 op ’n rit vol heimwee oor Suid-Afrika geneem, hierdie land wat so deel van ons as mens is, waar jy katbos en kambro ruik en die tolbosse gedryf deur die wind voortrol; as dit reën in die Klein-Karoo.

Daar is net een kunstenaar wat dit so kan vertel en dit is natuurlik Coenie de Villiers, een van Suid-Afrika se beste liedjieskrywers en uitvoerende kunstenaars. Sy liedjies is volksbesit. Coenie is ook bekend en bemind as televisie-aanbieder en onderhoudvoerder.

Nieteenstaande dit, het die gehoor gedurende sy skitterende vertoning, waar hy homself op die klavier begelei het, eers besef wat se talentvolle kunstenaar hy is. Coenie kan maar klavier speel en sy woorde tref daar waar ons die meeste trefbaar is – ons liefde vir die land.

Sy swaar aanslag met tye op die klavier ondersteun op dramatiese wyse sy sterk lirieke en stem, net om daarna weer af te skaal na die nostalgiese verlange na sy land wat hy ervaar tydens optredes oorsee en hy die genadelose wit van die Europese winter ervaar.
Dit is dan dat jy die reëndruppels op die sinkdak mis. Dan soek jy die vlaktes van die Vrystaat en Namakwaland se blomme.

Buiten een liedjie, ’n bekende nommertjie van Bob Dillon, het hy al die liedjies wat hy tydens die vertoning gesing het self gekomponeer en getoonset.

Coenie het ’n groot verhoogpersoonlikheid en het so tussendeur die musiekmaak, met die gehoor gesels asof almal ou bekendes is.

Indien jy die vertoning misgeloop het, probeer gerus om een van sy optredes by te woon. Ongelukkig sal jy dit nie op so ’n naby kontakvlak soos by die KunsteGrot kan ervaar nie. Waar dit gevoel het asof jy aan hom kan vat waar hy op die verhoog voor die klavier gesit het en na afloop van die vertoning, die fotosessie en lekker kuier saam met hom.

Mens kan dit bykans nie glo dat hierdie pa van drie kinders en gelukkig getroud is met sy vrou Ria, boonop beskermheer is van MES, ’n organisasie wat omsien na die hawelose- en straatkinders in die middestad van Johannesburg, nog tyd kry vir al die televisie-werk, skryf van liedjies en die toonset daarvan asook al die optredes.

Soos gewoonlik het baie van die teatergangers hul piekniekmandjies gepak en so tussen die ete en drinke die konsert gesellig geniet.

Op Reis – Coenie de Villiers

“Op reis deur verre lande
is die winters dikwels wit
En ek soek ’n opslagsomer
’n vloer van perskepit
In ’n ou-ou skemer opstal
Waar ’n lamp vertroostend brand
En al reis jy deur die vreemde
Vind jou kompas steeds jou land

Want in my hart woon daar ’n plaas
Met ’n windpomp en ’n dam
Met lusern in die skuur
Met skape wat kom lam
In die koelte van ’n klipmuur
Wat deur my drome sny
En hoe meer my voete reis
Dwing my hart my om te bly