Nuus vanaf Dinsdag 7 November

Vernietigende brand eis talle huise in Gordonsbaai

Talle huis in Gordonsbaai in die Wes-Kaap is deur ’n brand vernietig wat hierdie oostelike deel van Valsbaai, Wes van Sir Lowry’s pas, sedert vanmiddag vroeg teister.

Die eerste tekens van die brand was toe dit die berg wes van Sir Lowry’s Pas oorgesteek het en gedruk deur ’n sterk Suidoostewind vinnig teen die berg af in die rigting van Gordonsbaai beweeg het.

Kole vuur het op die dorp neergewaai en talle grasdakwonings het in die slag gebly. Die eerste huise wat begin brand het, was aan die oostelike gedeelte van die dorp, naby Sir Lowry’s Pas.

Die wind was so sterk dat lewendige kole sowat twee tot drie kilometer vanwaar die brand op die berg geword het, grasdakhuise aan die brand gesteek het.

Op ’n stadium was die hele Gordonsbaai in swart rookwolke gehul (hooffoto)en was die ramptoneel nie van die dorp teen die see af sigbaar nie.

Huisbewoners het vroegmiddag reeds wonings begin ontruim met die gevaar van die dreigende vuur wat op hul wonings afstuur.

Een van hierdie inwoners was Justin Coetzee, oud inwoner van Thabazimbi, wat met sy gesin net die nodigste besittings en hul diere gelaai het en padgegee het na sy pakhuis in ’n nywerheidsgebied in Somerset-Wes van waar hy sy besigheid, Cape Flooring, bedryf.

Op daardie stadium het ’n leë erf onder teen die berg aangrensend aan sy erf, reeds aan die brand geraak en het brandbestryders water uit sy swembad gepomp om die vuur te  blus wat ’n bedreiging vir twee houthuise wat aan sy erf grens ingehou het.

Oorkant die straat was sy buurman wat in ’n grasdakwoning gebly het ook besig om sy huis te ontruim.

Na Justin se terugkeer na die eiendom sowat twee uur later, was brandstryders besig om die buurman se huis in Strelitziastraat wat totaal afgebrand het, te blus. Sy eie huis was, behalwe rookskade, ongeskonde.

Die droë toestande in die Kaap sowel as die sterk Suidooster wat die vuur aangedryf het, het die taak van brandbestryders bemoeilik, veral ook omdat die brande so ver van mekaar ontstaan het as gevolg van die wind wat die brandende kole versprei het.

Helikopters kon ook nie gebruik word soos die brand versprei het nie as gevolg van die gevaarlike toestande gedurende die nag.

Dit is onduidelik op hierdie stadium hoeveel wonings in die brand vernietig is en of daar enige ongevalle was en wat die brand veroorsaak het.

Brandbestryders van al die omliggende dorpe het deur die nag geswoeg om die brand onder beheer te kry.