Verhoog-egpaar roer die hartsnare

Sielevoedsel is mildelik uitgedeel tydens die optrede van die verhoog-egpaar, Petru Wessels en Carel Trichardt, met die aanbieding van Man/Mannin Donderdagaand by die KunsteGrot op Thabazimbi.

Dié egpaar wat verlede jaar hul goue bruilof gevier het, is wel afgetree uit hul Teater Huisie in Pretoria en woon nou in hul huisie in die Kaap, maar is steeds aktief op die verhoog.

Man/Mannin, Adam en Eva, man en vrou, wat ook al, ’n beeldspel met prosa en gedigte, die pad van man en vrou, vanaf hul jong dae, romantiese dae, ouer-kind dae en die latere jare met kinders uit die huis en weer net die twee saam op hul eie, met al die lief en leed van ’n verhouding en kinders grootmaak.

Weereens, deur die KunsteGrot, het plaaslike inwoners die voorreg gehad om die room van ons akteurs op ’n plaaslike verhoog te ervaar. Op hierdie pad het hul ook ’n hele paar mense in die gehoor ’n traan so saam met die lag laat wegpink.

Heelparty teatergangers het ook van die geleentheid gebruik gemaak om ’n piekniekmandjie te pak met eet- en drinkgoed en so die aand nog meer te geniet.

Daar lê nog heelwat vermaaklikhede voor by die KunsteGrot vir die res van die jaar met “’n Moenie misloop” vertoning deur Coenie de Villiers – Coenie in Konsert op 3 November en die Krismispiekniek op 29 November saam met die Doringdraad Duwwels.

Joshua na die Reën lui volgende jaar die nuwe seisoen in met nog ’n fantastiese verhoog-optrede op 17 Februarie en op 16 Maart is dit Chris Else, wat met die vorige vertoning die verhoog met Firentse gedeel het.

Vir die fliekvlooie is daar nog drie fliekaande op 3 en 24 November asook op 1 Desember, wat voorlê. Twee sessies, 17:30 en 19:00, word elke aand aangebied waarvan die eerste sessie vir kinders is en die tweede sessie vir volwassenes. Ouers is steeds welkom om die eerste sessie saam met die kinders te geniet.

Die flieks wat draai is:
3 November:
Eerste sessie: Snaaks genoeg – Tweede sessie: Siembamba (’n Riller – Nie vir kinders).

24 November:
Eerste sessie: Nul is nie Niks nie – Tweede sessies: Stardust.

1 Desember:
Eerste sessie: Kampterrein – Tweede sessie: Alexander.

Bespreek sommer nou reeds jou kaartjies voordat die Kerstyd jou geld begin sluk.

Besprekings en navrae kan by Rita gedoen word by 083 744 8559 of besoek rivo@kunstegrot.co.za

10 Nov Kunstegrot Plakkaat Coenie