Steyn de Wet – Nuusbrief 6

Mardi Himal Trek in die Himalajas

Lucky view to high camp

Ons het hard gewerk vir hierdie een, ek het niks poëties om te sê nie – kyk maar net na die foto’s en maal met 10 om nader aan die werklikheid te kom. Ons het gisteraand in die onweer gaan slaap met die geloof en hoop: môre lyk alles anders. Ek het vroeër die beskrywing ‘onmoontlik mooi’ gebruik, maar nou is dit wat ek gedink het onmoontlik mooi is oortref. Vanoggend met wakker strompel uit my gehuggie van die vorige aand was alles buite ge-ys en die heelal vir ‘n uur lank gevries voor die sonsopkoms die skouspel afgesluit het.

Ek is so, so dankbaar. Ons het 3 dae berg geklim sonder om een keer ‘n volle, oop, vars uitsig op hierdie berg te hê. Ek het twee Aussies vanoggend by die uitkykpunt ontmoet wat reeds twee weke lank hier rondswerf en ook nou vir die eerste keer ‘n mooiweer dag beleef het. My hart loop oor, ek weet nie wat om te sê nie – miskien het die hoogte ook sy invloed.

Ons begin ook vir die eerste keer noemenswaardige hoogte bereik. Ons het gisteraand op 3200m bo seevlak geslaap en High Camp, waar ons vanaand oorbly, sit meer as 3500m bo seevlak. Kapenaars voel reeds op 1750m bo seevlak (Johannesburg se hoogte) die invloed van dunner lug en kan in die Drakensberge, vanaf 2500m bo seevlak aan hoogtesiekte lei in uitsonderlike omstandighede. Gautengers behoort veilig te wees tot op hoër vlakke, maar van 3500m af moet hulle ook maar versigtig wees.

Die eerste drie effekte van die hoogte wat ek agterkom, is dat ek vergeetagtig raak – ek het my stapstok reeds drie keer langs die pad vergeet, dalk meer en ek soek 30 minute na ‘n kopliggie in my sak wat ek reeds uitgehaal en op die vensterbank gesit het. Ek praat normaalweg baie goeie Engels, maar ek sukkel al hoe meer om ‘n volle sin aanmekaar te plak. Die derde ding kan ek nie onthou nie.

Ek gebruik nie op die oomblik medikasie wat hoogtesiekte keer nie, ek mag dalk later spyt wees daaroor, maar die medikasie het ook newe-effekte. Op die oomblik voel ek heel goed – so liggies en saggies hoog en minder eetlus as gewoonlik, maar baie goed. Ek kon nie help om die heeltyd by myself te dink ‘you’ve gotta get high if you wanna go high’ nie hehehehehe. Ek is taamlik reg om hoog te gaan.

Net om ‘n idee te gee van die ontsaglike grootte van hierdie berg: ‘n bus het ons oor kouesweet-passe so ver as wat moontlik is boontoe opgery, van daar af het ons 3 dae lank op die rug van ‘n voetheuwel geklim, vanaf 1700m bo seevlak tot 3500m, en hier waar die reuse nou oor ons leun is ons nog nie eens ‘in’ die berg homself nie. Trouens, eers na nog twee verdere dae se klim tot by 4500m bo seevlak sal jy werklik die berg-proper self ingaan.

Ons werk hard vir hierdie een, alles die moeite werd!

High Camp is daai tipe plek wat elke bergpelgrim hoop om ‘n paar keer gedurende die langmyle te vind. Soos ‘n klein Athene huisves High Camp trekkers vanuit al die uithoeke van die wêreld. Aan die hoeveelheid foto’s wat elkeen neem is dit duidelik dat almal van ons êrens in vorige lewens Japanese was.

‘n Vorige swerwer het ‘n vervalste Gibson met ‘n lekker blikkerige tjêng-tjâng-tjêng klank daar gelos en ‘n Aussie laaitie, Henry, het haar gegryp en saam met my kom tokkel op die stoep, in die skadu van Anapura 1, ‘n 8000m hoë piek. Henry die Aussie is so fraai, ek het eers na hy begin praat het besef hy is ‘n laaitie en nie ‘n meisiekind nie. Sy eerste woorde was: “how do you play the blues?” en ek het net daar geweet ek het ‘n kameraad. Ons het tot laat die nag, hoog van gees en van hoogte die ander trekkers vermaak met impromptu jams van classics soos Before You Accuse Me tot eie komposisies soos Buddha for My Weak Days gespeel. Saulus van Tarsus het geskryf as Paulus: “moenie dronk word van wyn nie, wees gevul met gees.” Ek reken hierdie is wat hy bedoel het.