Steyn de Wet – Nuusbrief 5

Mardi Himal Trek in die Himalajas

Die ander kant
Forest Camp tot Lucky view

“Nothing is clean, Howard” is een van my gunsteling film-aanhalings. (Uit Aviator). En as ek by Koos Kombuis kan leen: “hierdie issie die Bloutrein nie…” Daar is party mense vir wie ‘n trek deur die Himalajas lewensveranderend sal wees, en dan is daar ander (lees meeste) wat eerder moet wegbly en liefs die foto’s en stories moet geniet.

Een van ons toerlede, Este Swart, het grappig opgemerk: “Soos mens opgaan, gaan die standaarde af.” Dit was spottend op onsself, die trekkers, gerig. Daar is ʼn oulike kant daaraan, soos wanneer ‘n groep mense wat ‘n week gelede nog vreemdelinge was vir mekaar gemaklik word en die selfbewustheid sommer so sneuwel. Ek self het vanmiddag in die ysreën, agter die gebou waarin ons slaap gaan staan en bad. Darem nie in algemene sig nie, maar ek sou ook nie veel omgegee het as iemand om die hoek moes kom nie, want ek moes eenvoudig skoon kom, want alles is vuil. So dit het niks met die groepsgevoel en verlies aan selfbewustheid te doen nie. ‘Nothing is clean, Howard’, maar hier is dit so vuil dat dit jou siek kan maak.

Ek was en is natuurlik steeds bitter dankbaar en opgewonde om deur hierdie majestueuse wêreld te kan wandel en op kranse te kan staan wat so hoog is dat jy die ronding van die aarde kan sien. Die feit is ek sit amper nooit gedurende die dag se bergklim nie, want die areas rondom die wandelpaadjies is vuil. Vuil, meenende, iemand het heelmoontlik die plekkie wat nou so lekker sou sit nie te lank gelede nie as ‘n toilet gebruik. Vuil, meenende bevuil.

Op baie plekke, buitekant en binne, hang wrang reuke rond. Onversorgde honde sal jy vind – soms brandsiek, soms met lintwurms wat by die agterent uithang. Vullishope word sommer in die lope van strome begrawe en opgevul, dus moet alle drinkwater gefilter word en liefs ontsmet word. Daar is amper oral langs die pad rommel. Verder is die verblyf basies en toilette van die Indiese soort – ‘n porselein gat in die grond waaroor jy hurk met jou moeë bene. Daar waar jy hurk sal jy op armlengte ‘n emmer vind waarin jou gebruikte toiletpapier vergader saam met jou voorgangers s’n, want met hierdie dreinsisteme mag die papier nie afgespoel word nie. Hindu altare is ashope wat die natuur besoedel en sodra die nuutheid begin stof wys, sal jy moontlik die kultuur eenvoudig en die filosofie eng vind.

Ek kan ook sommer hier byvoeg – die rede dat hierdie stories nie elke dag in SA aangekom het nie, is omdat die infrastruktuur dit nie toelaat nie. Ek het net-net elke dag krag in hierdie foon (wat die foto’s neem en waarop ek die stories tik) se battery gehad, wifi of ontvangs kry jy net hier en daar en elke liewe kragprop in Nepal werk net-net, op genade alleen.

Dan ook – die weer. Ons was gelukkig tot dusver om min nat te reën. Ons beweeg oggende vroeg en probeer om voor die middag donderstorms by die volgende kamp uit te kom. Hierdie is nie hoëveld donderweer nie, hier praat ons van hael en ysreën teen temperature wat na enigiets rondom vriespunt voel. Die kanse is goed dat ons minstens een of twee dae sopnat en yskoud sal klaarmaak – daai tipe dae toets jou sin vir humor. Gegewe die weer sover het ons nog nie juis ure met oop berg-uitsigte gehad nie – ons hoop daarvoor!

Vir alles in die lewe betaal mens ‘n prys – hierdie bogenoemde goedjies is die prys wat ons hier betaal. Hierdie is verseker nie almal se idee van ‘n duur vakansie nie. Indien jy ooit hierdie tipe trek wil meemaak, maak seker jy het al verskillende 3de wêreldse kulture en omstandighede beleef, gaan kamp en kom klaar sonder die dingetjies wat jy so gewoond aan is vir ‘n week of so, gaan doen ‘n paar 5 dag stappe en probeer om jouself bo 3000m bo seevlak te toets.

Mens moet ook lof gee waar dit hoort! Ten spyte van eenvoudige kombuisies en kos wat alles opgedra moet word na die bergherberge toe, was elke maaltyd sover verbasend smaaklik en het niemand in die groep tot dusver maagprobleme opgetel nie.

Hierdie paadjie is op baie maniere uitdagend en die wat daarlangs gaan is min, met goeie rede! Maar indien jy nogsteeds vlinders kry deur net te dink aan hierdie tipe avontuur, begin solank reël! Dit is, alles in ag geneem, ‘n lewenservaring.

Nota:
Indien daar behoefte is, sal ek later, terug in SA, ook ‘n stukkie skryf oor die tegniese en logistieke details vir so ‘n trek.