Steyn de Wet – Nuusbrief 4 – Mardi Himal Trek in die Himalajas

Dronkskryf

Van Photang na Forest Camp

Foto’s neem in ‘n nuwe land is net soos dronkskryf. In die silwer oomblik voel alles geniaal, maar met herbesoek skaam jy jouself vir die ‘werk’ van jou hande. Maar wat, ek reken dat jy hier en daar raak sal skiet as jy genoeg tieke kliek.

Ons moes tot dusver tevrede wees met die getuienis van die skaamdrake se vuurspoeg. Vanoggend, 6 April, met die vars son, het hulle vir die eerste keer werklik hul tande en vuurspoeg gewys. Die produk van hul vuurspoeg het hul egter binne oomblikke weer versteek en later op ons neergestort. Maar ten minste tot voor die wit se terugveg was die son ‘n kooloond tussen die wolkmassas teen die kruin, ‘n krematorium vir jou worries – as tot as vir die probleme, vir die lekker hart die lewe.

Hulle sê graag hier: “When there is money, you need three eyes.” En terwyl ons vandag amper heeldag lank op en oor waterskeidings geloop het, het my derde oog die hoopvolle broers en susters van my moedergrond gesien, hulle wie regmaak om môre hul stemme te laat hoor vanuit hul smartieboksie-see van gesigte.

Ek gaan nie sê ek wens ek was môre in Suid-Afrika nie, ek is bly ek is hier, maar ek sien ook uit daarna om terug te keer en te bewapen vir hierdie besonderse geveg. Vrydag, 7 April, se marserende massas gaan ‘niks’ verander vir pessimis of kort termyn denker nie, maar dit kan deel van die wenpunte in ‘n grootse stryd wees. Edmond Hillary sê dat jy nie die berg oorwin nie, maar jouself. Hopelik proe ons gou-gou hierdie eerste oorwinning. En ek hoop almal wat korrupsie en algemene vertraagdheid kan stuit groei ‘n derde oog.

Maar ek skeur vir eers terug na die God-vinger vistas, onmoontlik mooi. En die rein wens-mense. En die ryke eenvoud.

Die lewe het skielik eenvoudig geword. Pragtig simplisties. Dit is nog nie eens ‘n week nie, maar dit voel reeds moeilik om te onthou dat ek ‘n bakkie by die huis het en ry gewoonlik ry waarheen ek wil gaan. Dit is moeilik om window shopping en ‘wat sal hier mooi lyk in die sitkamer’ te onthou. Dit voel asof ek gemaak is om ‘n bergvoetswerwer te wees.

Die lewe is eenvoudig. Jou eie voete dra jou na die mooiste gesigte en uiteindelik na jou lêplek toe. By jou bergherbergie aangekom hoop jy op ‘n relatief gemaklike nommer twee noodverligting, jy kry ‘n bak kookwater om mee te was en dan suiwer jy drinkwater vir môre se stap. Al my besittings is in ‘n sak en selfs daarvan voel heelwat oorbodig. As jy elke aand ‘n ‘quick dry’ hemp uitspoel, het jy nie veel hemde nodig nie.

As ek net die verstaan van eenvoud kan saam terugneem huistoe, dan het ek meer as genoeg hier gekry.