Steyn de Wet – Nuusbrief 3 – Mardi Himal Trek in die Himalajas

Resham Firiri – Nepal se Shosholoza

Berg-in vanaf Kande

Die melodieë van die reën klink in alle tale dieselfde, maar hoe armer die dak, hoe duideliker die impak. Silwer weergreinlyne trek windlangs af oor eindes waar geute moes gewees het. En daar druk die luggie my deur sagkens toe – selfs die wind is gaaf hier en die hael wat oorlog voer op die sink en die bliksemflitse maak nie bang nie. Hier is ons nou waar ons wil wees.

My grootste kopseer te make met geloof het te doen met die bewerking en verwerking van die konsep van ‘die ewigheid’. Ek kan ‘ewigheid’ nie klein kry nie en die idee van ‘n son wat in ‘n dag sonder einde drentel tussen nege, twaalf en drie maak my bang.

Hierdie reën ruik nie soos ons reën nie, maar die van ʼn lewendige woud en gepakte klippaaidjies – ek sou ‘n ewigheid in hierdie berge kon spandeer.

Gisteroggend het ‘n bus ons vanaf Phokara na Kande gehop teen bergpasse uit wat vegvlieëniers ‘n holmaag sou gee. Van die bus afgeklim klink my siel: Siedaar! Die koers slaat lynreg berg-in, hierdie is mos waarvoor ons in Nepal is!

Verrykende gesprekke oor Hindoeïsme en Boeddhisme het die steentrapklim moeiteloos gemaak en nog voor my lyne die Ooste kon skakel met die antieke Grieke se filosofieë het ons by See You Lodge afgepak vir die aand.

Soos ouetehuis mensies uitsien na geselsies, net so jeuk my vingers maar gedurig vir my Fendertjie se snare. Ek dra hom saam op my rug en was reeds reg vir tokkel toe ek sien dat die gidse tabla tromme saamdra.

Met die aankomskoffie nog te warm om te sluk het ek Nepal se Shosholoza gevind – Resham Firiri – en het ons weggetrek in die klank wat almal verstaan: ritmes en melodieë. Elke droom het ‘n vervaldatum, alle geld is vals en geen besittings wil jou hê nie, maar in hierdie oomblik waaraan ek behoort ken ek lewe in oorvloed.