Mardi Himal Trek in die Himalajas – Steyn de Wet – Nuusbrief 2

Námásté! – Vanaf Katmandu na Phokara

Wilde, ongetemde veld is meer rybaar as meeste Nepalese paaie, so het ek 5 April besef. En gisteraand se Daal Bhat dreig om my ‘n tweede keer te brand. Daarby het die Nepalese langbiere my uitoorlê, so het dit my vanoggend getref tussen die oë en ek het toe ook op die sticker gelees: 7%. En ons skud pappie – ek voel soos ‘n mensmasjien-sementmenger-vragmotor, my bedryf is nie bewapen nie en hierdie sement is heelwat meer as ‘n japtrap van stol af. Dit is tye soos die wat jy leer van bid, hoop en vertrou.

Skud-skud vanaf Phokara na die berg toe was ons almal egter in die wolke om op die 4de dag van ons reis uiteindelik in die berg te kom en haar in haar volle glorie te kan sien – sy was tot nou toe in ‘n trourok geweef uit Van Hunks se rook toegeknoop en hierdie bruilofsnag kan nie vinnig genoeg aanbreek nie.

Gelukkig het ons nie, soos baie ander trekkers, die nege uur lange busrit vanaf Katmandu na Phokara geneem nie. Alhoewel jy jouself vir weke aan een kan verkyk by die busruit uit aan die amper vertikale terras-boerderye, die straat mechanics se opelug werkswinkels en die teken prentjie stapeltjies van oorbevolkte, wasgoed wapper woonstelle, reken ek dat nuwe niere skaars is in Nepal. Dus is ons gisteroggend weer terug na die lughawe toe om na Phokara toe te vlieg.

As ons gedink het dat die internasionale terminaal ‘n deurmekaarspul was, dan kom chaos tot sy reg waar jy opdam en sweet en stink vir jou plaaslike vlug. Daar is ‘n unieke gatvolgeit wat, in enige land en kultuur, spesiaal beskore is vir ons tipe hawelose lughawe-wesens.

Almal vanaf die mooi jong vrou wat by haar familie wil kom, tot die dames wat die berg wil haal om te begin trek, tot die verligte Boeddhistiese monnike buig die knie voor hierdie frustrasie.

Voordat ons Buddha Air 609 bestyg het, het die mooiste stukkie kultuur afgespeel, wat ek gelukkig was om in ene en nulle vas te lê. In die voorgrond neem ‘n jong vrou ‘n foto van haar lover. In die agtergrond doen twee monnike dieselfde! Ek sou verwag het dat verligte Boeddhiste sou uittroon ver bo die res van ons se wêreldse gewoontetjies – toe nie!

Dan die lugredery se naam – Buddha Air. As daar ooit ‘n lugdiens met die naam ‘Jesus Air’ geloots word, sal ‘n hele paar wenkbroue in fronse in lig. As ek Muhammad Air sou registreer, sou ek seer sekerlik naby wees aan my laaste teug. Hierdie wys maar net – ons idees oor wat lasterlik is en wat geoorloof is, is ook maar net ‘n sosiale konstruksie.

Aangekom in Phokara wou die berg haar knieë wys tussen die donderstorms deur, maar ons sou nog moes wag. Later die aand, na die 7% langbiere het die uwe op die verhoog geklim en ingeval met die tradisionele Nepalese danse wat aan die gang was – ongelukkig is daar GEEN foto’s hiervan beskikbaar nie.

Laastens, die Nepalese woord vir ‘hallo’ – Námásté! Jy moet hom skryf met akúte op elke lettergreep en ‘n uitroepteken aan die einde – die woord kleur die prentjie van hierdie mense en hul taal in; dit is ‘n kinderlike opgewonde taal, net soos haar sprekers. Námásté! beteken meer as net ‘hallo’. Dit beteken ‘ek sien jou’, ‘ek respekteer jou’ en ‘ek aanvaar jou vir wie jy is’.

Suid-Afrika, Námásté!