Steyn de Wet – Nuusbrief 1 – uit die ooste

Mardi Himal Trek in die Himalajas

Nege uur die oggend, 4 April, 2017, in Katmandu, Nepal word ek uit mooi ou drome weggevoer, terug na die wakker wêreld. Die opgewondenheid vanaf die Holy Himalaya Hotel se restaurant kan in enige taal beleef word. Trekkers van alle herkomste, oud en jonk (letterlik vanaf ‘n twaalf jaar oue tjokkertjie tot ‘n oupa van tagtig) het ‘n wals in hul stap en ‘n klank op die tong wat hoort by negentienjarige ‘gap year’ kinders wat die eerste keer ware vryheid ontdek het.

Nege in die oggend klink dalk laat, maar gegewe die 4 uur positiewe tydsverskil is dit klokslag op my 5vm Kaapstad opstaantyd. En gegewe die unieke 24 uur in transit voordat my sewe ure se slaap begin het, is dit eintlik nie ‘n luiaardige opstaantyd nie.

Sondagoggend, 3 April het luilekker in Welgedacht begin met onse 4 en ‘n half maande oue François, wat sedert die klein ure my en Zelda se bed oorgeneem het. Ek het my mede-trekker en moedertjie, Fia, omstreeks 9:30 op Kaapstad internasionaal opgetel en ons het die laaste paar inkopies laat tieng om saam met varsgebakte drome vir die reis in te pak.

(Dit is heel interessant dat die woord ‘trek’ globaal gebruik word vir die tipe bergklimtogte soos die een wat ons nou op vertrek in die Mardi Himal Trek in die Himalajas. Dit is afgelei vanaf die Groot Trek se trekkers se tog en dus eg Suid-Afrikaans en tog vandag wêreldwyd in gebruik.)

Vanaf Kaapstad Internasionaal, 20:00, tot Dubai, wie weet watter tyd, was daar geen drama nie. Trouens, ek het so lekker geslaap na ‘n rowwe week en EEN gin en dry lemon, dat die lugwaardin my moes kom wakker maak om af te klim nadat ons vasgemeer het! Dubai se lughawe is so groot dat ons ‘n 25 minute busrit moes neem vanaf die grênd Emirates terminaal tot die Kulula-klas tweede terminaal van waar af die Fly Dubai vlug ons na Katmandu sou neem.

In terminaal twee het ek so lekker gevoel in my joints gekry – niemand ken my mos hier wat ‘n foto kan neem of hoegenaamd iets gade kan slaan wat my later in die verleentheid kan bring nie. In die McDonald’s se ry… ja die McDonald’s ry… ek is ‘n wêreldreisiger, al verdwaal ek in ‘n inkopiesentrum… in daai ry, nog voordat my gevoel van onbekendheid vlugtig kon word, toe klop ‘n fris vuilbaard klong op my skouer en sê – “Jy is mos Steyn de Wet!? Ek werk saam met jou ou vriend, Boom, vir die Amerikaanse weermag, ons luister jou songs op die basis!” Nou daar het jy dit: Steyn de Wet is klaarblyklik meer bekend in Irak en Afghanistan as in Suid-Afrika.

Dit was en via vanaf Dubai na Katmandu wat die poppe die Samba begin voel het. Een van ons toergroep lede het ‘n beroerte gekry daar tussen die hemel en die terra firma, digby Katmandu. Om sake te kompliseer het hewige donderstorms uitgebreek oor die lughawe en moes ons na 30 minute se sirkels verf deur die wolke koers kies na Lucknow, Indië. Ironies, daai naam.

En die hele tyd kon ek net aan een ding dink. Gaan onse Suid-Afrika opstaan en vir Zuma stuit? Gaan die heldhaftige Gordhan en Jonas dalk opstaan en die leiers word van die weerstand wat ons in hierdie tyd so nodig het? Hierin lê dalk die grootste les – my worries verander niks aan hierdie wêreld nie en ek is immers 10 000 seemyl weg, wat ek moet en KAN doen is om om in hierdie oomblik te leef, om ELKE oomblik te beleef.

Op Lucknow is die straler se brandstoftenks volgemaak terwyl ons gewag, gewag en tande getel het. ‘n Hele paar wit jassies het ingekom na die pasiënt toe en is toe weer uit. Papiere is geteken en daar is heelwat in Hindi gemompel. Die dokter wat gelukkig aan boord was het probeer verduidelik terwyl sy vriendin, wie se Engels minder verstaanbaar as sy Spaans was, probeer vertaal het – onsekerheid klink in alle tale dieselfde. Op die ou end het stokmannetjie prentjies en mediese akronieme die ding gedoen. ‘n Rystoel en ‘n stretcher is getoets en toe is daar na my gedraai: “You big – carry.”

Ek het die arme tannie uit die vliegtuig gedra soos wat ek my baba, François, na sy kot toe dra en by myself gedink – dis die lewe: jy word in die lewe ingedra en later word jy uitgedra. Ons toerleier het ons ook daar verlaat om na haar om te sien, ons is gelukkig in goeie hande met gidse wat touwys is en vele van die toerlede wat vir ‘n tweede of derde keer in Nepal kom trek. Kort daarna het ons opgestyg en die keer, alhoewel laat, Katmandu gehaal.

Na breakfast is die strate van Katmandu verken. Ek het al samehorigheid in my lewe gevoel – in rugbyspanne en met familie Kersfeeste, maar niks kan vergelyk word met die verstaan wat pelgrims in ‘n vreemde wêreld vir mekaar het nie. Skielik is ek tuis, saam met die bok voor die slaghuis wat wag vir die donker sny, saam met die man wat groen groente deur die besige strate dra soos die prentjie van die waterdraer, saam met die ou met die leer wat êrens iets moet gaan fix om sy brood te verdien. Die legkaart van kleure verdrink die swaarkry van die stukkende strate en die Nepalese mense se vriendelikheid laat die Westerling arm voel – ek wonder of hulle weet hul het iets wat ek nie het nie, iets wat ek nodig het.

Word vervolg