Groot Trek terug Kaap-toe

Die land ervaar tans die werklikheid van die Groot Trek, terug Kaap toe. Net soos die werklike Groot Trek wat van 1834 tot 1838 plaasgevind het, het die huidige een ook ‘n groot invloed op die land se demografie, eiendomme en arbeidsmark. Hierdie mening is uitgespreek deur Magnus Heystek, ‘n Beleggingstrateeg, in ‘n verslag oor hierdie nuwe tendens.

Vir diegene wat regdeur hul skoolloopbaan in die geskiedenisklas gesit en slaap het, weet dalk nie wat die Groot Trek was nie. Die Groot Trek is die benaming vir die aksie toe die hoofsaaklik Afrikaans/Hollands-sprekende inwoners gevoel het dat hulle genoeg gehad het van die Engelse Koloniale regering in die Kaap, al hul besittings met hul vroue, kinders en slawe wat pas vryheid verkry het, op hul waens gepak en die Noordelike wildernis aangevat het in hul soektog na vryheid en grond waar hulle self beheer oor sal uitoefen en hul heil daar vind.

Die Groot Trek het die streke wat sedert die vestiging van die trekkers bekend staan het as die Vrystaat, Noord Kaap, Natal, Transvaal en selfs gedeeltes van Bechuanaland, wat vandag deel uitmaak van Botswana, deurkruis en gevestig waar hulle ‘n redelike rustige bestaan gevoer het, met net hier en daar botsings met die inheemse inwoners van Afrika wat op hulle beurt weer besig was om vanaf sentraal Afrika na die Suide af te beweeg.

Die Groot Trek was glad nie ‘n Calvinistiese kruistog soos dit in geskiedenisboeke en in die friese teen die mure van die Voortrekker Monument uitgebeeld word nie. Daar was verseker diegene wat deur geloofsoortuiging gedryf is, maar daar was ook ‘n paar vrye-geeste wat so ‘n bietjie stoutigheid aangevang het, soos uitgebeeld deur Robin Binckes in sy omstrede boek “Canvass Under the Sky’ (2012) waarin hy daarop wys dat baie ruiltransaksies met die inheemse bevolking gemaak is vir dagga en selfs vroulike vermaak.
Die Groot Trek was indirek verantwoordelik vir die ontdekking van diamante in die Kimberley gebied in 1867. Daarna was dit die goud aan die Witwatersrand, wat die myn- en industriële rewolusie, wat vir die grootste bydra tot ekonomiese uitbreiding gedurende die 20 ste eeu verantwoordelik was, afgeskop het.

Heystek wys daarop dat hy heelwat aanvegbare historiese gebeurtenisse waarop hy aangevat kan word in die verslag uitlaat het, aangesien dit nie ter sake is in dit wat hy wil bewys nie.

Vir die grootste gedeelte van die twintigste eeu was die rykdom in Suid-Afrika geskoei op die ontluikende myn-industrie. As jy wou ryk word in Suid-Afrika gedurende hierdie tydperk, het jy koers gevat na die goue mynhope van Johannesburg om jou fortuin in mynbou, myn-finansiering en die dienste sektor, wat ‘n groot ondersteunende rol in hierdie groot en steeds groeiende industrie vervul het, te maak.

Gedurende 1970 was Suid-Afrika byvoorbeeld die top produsent van goud in die wêreld met 1000 ton goud wat geproduseer is.

Hierdie jare was ook getuienis van Kaap-gebaseerde besighede wat uitgebrei het na die vooruitstrewende myn- en kommersiële hoofkantore van die land met byvoorbeeld Naspers wat die Beeld in die noorde in 1974, as teenvoeter vir die eens magtige Perskor, versprei het.

Salarisse en lone asook eiendomspryse was altyd laer in die Kaap as in Johannesburg. Kaapstad was nie verniet Slaapstad genoem nie. Watter stad in die land, of te wel in die wêreld, bou ‘n super-snelweg wat, tot vandag toe, eenvoudig onvoltooid in die middel van die stad ophou?

Of ‘n stad waar iemand toegelaat word om drie van die lelikste geboue ooit – die sogenoemde “tampon towers” – reg voor een van die mees herkenbare natuurlike erfenis bakens, Tafelberg, te bou? Stellenbosch, aan die ander kant, ‘n studentedorp wat bekend was vir sy landgoedwyne, vrugte en die rugbyspelers wat dit gelewer het onder die legendariese Danie Craven as afrigter. Tog het dit gedurende hierdie periode ‘n sakereus in die vorm van Anton Rupert opgelewer. ‘n Man wat Remgro en daarna Richmond tot wêreldklas ondernemings opgebou het.

Dit was toe – en nou die hede.
So het alles verander.
In minder as twintig jaar het die wiel van geluk gedraai, en sommer nog verder gedraai.
Wat begin het in die jaar 2000 met mense wat vanaf Gauteng, asook ander dele van die land, drupsgewys suid begin beweeg het, meestal om af te tree, het nou verander in ‘n volskaalse vloed van welaf mense en mense met vaardighede wat Kaap toe trek in die algemeen, en spesifiek die Wes Kaap. Hierdie beweging het verder momentum verkry toe die Demokratiese Alliansie (DA) die totale politieke bestuur van eers Kaapstad, en later die hele provinsie in 2009, oorgeneem het.

Dit is ‘n onbetwisbare feit dat die munisipaliteite van die Wes Kaap beter, met meer vaardighede, en met minder korrupsie en vermorsing van fondse bestuur word as enige ander stad in enige ander deel van die land.

Heystek noem as voorbeeld dat hy op die internet inligting gesoek het om navrae te doen aangaande die registrasie van ‘n motorvoertuig op sy naam. Op die webblad was daar die opsie om ‘n e-pos aan hulle te rig vir nadere inligting, wat hy ook gedoen het en daarmee saam ook sy selnommer ingevul. Hy het byna van sy stoel afgeval toe hy die volgende dag ‘n oproep ontvang van ‘n baie vriendelike klerk wat verneem of hy bevredigende antwoorde gekry het op sy navrae.
“ Dit is ondenkbaar dat dit sou gebeur in die groot metropolis van Johannesburg waar hul vasgevang is in ‘n gesentraliseerde burokrasie wat vergelyk kan met die moderne ekwivalent van ‘n wortel-kanaal behandeling sonder om verdowingsmiddels te gebruik.”

Die tyd dat dit hoofsaaklik pensionarisse is wat afgetrek het Kaap toe, is reeds lankal verby. Deesdae is dit ‘n immer-groeiende aantal jong gesinne, met skoolgaande kinders, wat hulself in veral Stellenbosch, Paarl, Somerset Wes en Kaapstad vestig.

Niemand weet wat die werklike toedrag van sake is nie aangaande hierdie verhuisings vanaf die noorde nie – iemand het by iemand anders gehoor – maar na bewering het sowat 45 000 gesinne gedurende die afgelope jaar hulle in formele woongebiede in die Wes Kaap gevestig. Niemand weet hoe hierdie sommetjie gemaak is nie – die feit is, dit dra meriete.

Voeg hierby die gerugte van ‘n verslag wat daarop sou wys dat sowat 75% van die hoër netto inkomste groep van die wit bevolking binne die volgende tien jaar in die Wes Kaap sal woon. Ongelukkig bestaan daar nie ‘n afskrif van hierdie verslag nie.

Verlede jaar, tydens ‘n beleggings-seminaar wat deur Brenthurst Wealth in samewerking met Moneyweb by die Val de Vie landgoed buite Paarl aangebied is, was meer as 75% van die mense aanwesig eks-Gautengers.

Val de Vie het onlangs met Pearl Valley saamgesmelt en is tans seker die grootste enkel residensiële ontwikkeling, groter as Steyn City, wat tans ‘n hedendaagse goud-koors vir sy beskikbare standplase ervaar, met rekordverkope maand na maand. Die duurste standplase in die sogenaamde “Here-Landgoed” wissel van R8 tot R12 miljoen elk en is juis die standplase wat die vinnigste verkoop.

Dieselfde is besig om in die res van die Wes Kaap te gebeur waar residensiële ontwikkelings basies uitverkoop word sodra dit op die mark kom.

Binneland word die beskikbaarheid van grond beperk as gevolg van die baie duur en skaars-wordende landbou-eiendomme wat hoofsaaklik vir die verbouing van druiwe en koring aangewend word.

Die gemiddelde prys van huise in die Wes Kaap is nou sowat 40% hoër as die gemiddelde pryse in Gauteng en ander gedeeltes van die land, ‘n verskil wat net groei en groei.

Daar is ander faktore wat ook bydra tot die Groot Stormloop na die Suide. Hier speel die internet ‘n groot rol aangesien daar ‘n toename in werk is wat deur die internet gedoen kan word, wat jou nie meer tot ‘n geografiese gebied beperk nie. Jy kan in die Wes Kaap bly en ‘n verdienste regoor die hele wêreld verdien. Soos hierdie tendens groei, verkies al hoe meer mense om in gebiede te woon wat nie noodwendig naby hul kantoor is nie.

Die swakker rand het ook ‘n invloed op hierdie verskuiwing. Teen R7 en minder vir ‘n dollar is dit dalk nog die moeite werd om jouself oorsee te vestig. Teen R14 vir ‘n dollar is hierdie opsie vir die meeste mense neusie verby.

Baie mense wat graag Kaap-toe wil trek, skop vas sodra hulle besef wat hulle sal moet inboet ten opsigte van wat hulle het en wat in die Kaap beskikbaar is. Ander vat dit soos dit kom en is bereid om ‘n kleiner huis te aanvaar as die prys om in die Wes Kaap te kan bly.

Niemand kan sê vir hoe lank hierdie tendens sal voortduur nie. Die stadium sal bereik word dat dit sal afneem omdat diegene wat die Groot Trek aangevat het, dit reeds gedoen het. Tans is die Wes Kaap se residensiële eiendom mark die enigste ligpunt vir plaaslike beleggers in ‘n baie depressiewe res van die land.

Magnus Heystek is ‘n beleggingstrateeg by Brenthurst Wealth. hy kan gekontak word by magnus@heystek.co.za vir ideë en beleggings.