AfriSake staan onteiening sonder vergoeding ten sterkste teen

AfriSake sê hy sal nie huiwer om regsaksie in te stel ten einde die Grondwet te beskerm, te verdedig en te handhaaf nie. “Sou die regering enige vorm van wetgewing goedkeur wat poog om eiendomsreg in Suid-Afrika te ondermyn, sal dit met sterk teenkanting gekonfronteer word,” sê Armand Greyling, regs- en beleidsanalis verbonde aan AfriSake.

Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het tydens die debat na afloop van president Jacob Zuma se staatsrede, gesê dat eiendom vir doeleindes van grondhervorming sonder vergoeding onteien moet word. Dit was die minister se bydrae ter ondersteuning daarvan om Zuma se ideaal van radikale sosio-ekonomiese transformasie met betrekking tot grondhervorming, te verwesenlik

Greyling sê voorts dat dit wil voorkom asof die regering poog om dieselfde roete te volg wat in Zimbabwe geneem is met betrekking tot eiendomsregte. Dit word veral duidelik wanneer die minister daarna verwys dat die nodige grondwetlike wysigings gemaak moet word om die proses in werking te stel. Die spesifieke artikels in die Grondwet wat tans die verkryging van eiendom deur die staat sonder om vergoeding te verskaf verbied, is artikels 25(2)(b) en 25(3).

Hierdie artikels bepaal dat die onteiening van eiendom aan regverdige en billike vergoeding onderhewig is, asook hoe dit bereken moet word. Die voorstel dat wysigings daaraan gemaak moet word beteken in eenvoudige terme dat die regering meer as bereidwillig is om op privaat eiendomsregte inbreuk te maak ten einde sy politieke agenda te bevorder sonder enige voorbedagtheid vir die nagevolge wat hieruit kan voortspruit.

Graderingsagentskappe kyk indringend na wetgewing en regeringsbeleid wat ’n negatiewe uitwerking op eiendomsregte en eienaarskap in ’n land het, wanneer ’n land se kredietgradering bepaal word. Indien die regering ernstig is oor onteiening sonder vergoeding, is ’n skerp afgradering ’n naderende gevaar.

President Zuma het die Grondonteieningswetsontwerp na die parlement teruggestuur weens bedenkinge oor openbare deelname en of dié wetsontwerp grondwetlike inspeksie sal slaag. “Die wetsontwerp maak steeds voorsiening dat regverdige en billike vergoeding ’n vereiste is, maar ons weet nou dat dit die regering se voorneme is om van hierdie vereiste ontslae te raak.”