Nuuskommentaar: Media in die loopgraaf

Daar is ’n verskuiwing van mediavoorkeure onder lesers en luisteraars. Beteken dit dat die gedrukte media sonder meer voor die kuberruim gaan swig, en sou so iets wenslik wees? Herman Toerien neem ’n paar aspekte onder die loep.

Oor die belangrikheid van die media, en in besonder die pers, bestaan geen twyfel nie. Die pers is al immers dikwels as die vierde, weliswaar nie-amptelike been van die demokrasie beskryf.

Tog moet die media self, of mediakundiges, dikwels self die belangrikheid onderstreep. So was daar onlangs ’n artikel van prof. Johannes Froneman, mediakundige van die Potchefstroomse kampus van die NWU, getiteld, “Dié joernalistiek bly onontbeerlik.”

Omtrent dieselfde tyd skryf die bekende dr. Leopold Scholtz ’n artikel onder die titel, “Moenie die media afskryf.”

In ’n snel-veranderende wêreld bly ou, gevestigde praktyke gereeld in die slag. In minder as een geslag het slakkepos so te sê uitgedien geraak. Hoeveel poskaarte verwag u vanjaar? (of liewer iewers deur die loop van volgende jaar omdat die Poskantoor se aflewering nie altyd waffers vinnig is nie), en hoeveel poskaarte stuur u uit? Of stuur u liefs die Kersboodskappe met die selfoon uit?

Selfs die telefoon moes grootliks vir die selfoon plek maak. ’n Nuwe geslag word groot sonder die geringste verwagting om eendag ’n gewone telefoon in die huis te hê.

Hierdie omvattende ontwikkelings sal noodwendig na die mediawêreld deursuiker. Anders as met die slakkepos en vastelyn-telefoon is die weerstand nie hoofsaaklik veral bejaardes met ’n weerstandigheid om nuwe tegnologie baas te raak nie. Baie van diegene wat vir die behoud van gedrukte koerante pleit, is self ysters in kuberruim, en wend ook die kuberruim aan om voorbrand te maak vir die behoud van gedrukte koerante.

Een van die belangrikste aspekte van ’n groot koerantgroep is dat dit gewoonlik oor ’n baie sterk span beskik wat na die suiwerheid en kwaliteit van taalgebruik beskik. Daar is behoorlike gevestigde tradisies van korporatiewe geheue wat aan nuwe geslag joernalis tot volgende geslag van joernalis oorgedra word.

So word voorkom dat allerlei taalgoggas aan boord sluip, en die lesers kry ’n behoorlike blootstelling aan baie goeie Afrikaans.

Ongelukkig bring vernuwing en besparings nie altyd verbeterings nie, en die vreemdste goggas slaan soms soos masels uit. Ons lees nou gereeld iemand het ’n operasie gekry of ontvang, ons lees van seksies en afdelings in wette in plaas van artikels. Mense word links en regs “verban” terwyl hulle eintlik net geskors is of uitgeskop is. Pres. Jacob Zuma is glo lief om eertydse bondgenote “onder die bus in te gooi” in plaas van om hulle vir die wolwe te gooi. Verwarring oor numeriese terme kan groot verskille maak, soos om die Amerikaanse “billion” met ’n biljoen, in plaas van miljard te vertaal.

Dit is maar enkele voorbeelde van uitrafeling. Beeld se sportredakteur, Gert van der Westhuizen, het pas in ’n rubriek, Afrikaners vermoor hul eie taal, erg uitgepak oor taalgoggas wat aan boord gesluip het. By die oorgrote meerderheid lesers sou die voorbeelde wat hy noem ongesiens verbygesluip het.
Die media, en in besonder die gedrukte media, se rol strek egter veel verder as hierdie gemeenskapsdiens.

Dit moet as waghond dien teen owerheidsvergrype. ’n Mens kan ’n lang lys sake maak wat aan die lig gekom het na die media dit aan die groot klok gehang het, waaronder Nkandla. ’n Openbare uitsaaier sal nie maklik politiek-sensitiewe vergrype kan oopkrap nie, en as dit politiek gekaap is, ook nie die wil daartoe hê nie.

Op hierdie terrein is politieke korrektheid dikwels die gedrukte koerant se grootste vyand.
In die moderne bemarkingsomgewing speel ’n mediamengsel ’n belangrike rol. Op wetenskaplike gronde word bepaal hoeveel persent van ’n bemarkingsbegroting aan die gedrukte media spandeer, hoeveel aan die radio, en hoeveel aan die TV. Selfs brosjures en pamflette word dikwels saam met koerante versprei (teen ’n koste) omdat die assosiasie-effek ’n groot invloed het.

Die gedrukte koerant het dus (nog) baie positiewe stoom ook, en sal nie so vinnig uitgedien raak soos ander tegnologiese wonders van gister en eergister nie.
Maar dan moet dit ondersteun word.

Maar … koerantbase moet ook besef die oorlewigsdraad is dun, en dat koerante nie kan bekostig om in ’n oorlog met sy lesers betrokke te raak nie. Die era wat ’n redakteur in ’n hoofartikel kan skryf dat die openbare diskoers oor aborsies iets van die verlede is (terwyl dit in byvoorbeeld die VSA juis toeneem), en dus verder nuus hieroor verswyg, is verby. ’n Redakteur kan ook nie sy persoonlike klein byltjies slyp nie. Lokvaljoernalistiek van gerespekteerdes laat ’n swak smaak. Te veel bydraes van loskop-rubriekskrywers veroorsaak lesersweerstand.

Gelukkig is Suid-Afrika se Afrikaanse koerante nou op die regte koers, en verdien ondersteuning.
Maar sou die gedrukte koerant ondergaan – wat is die alternatief?
Dit word dikwels gestel dat die mag van die sosiale media onderskat word, soos met die Amerikaanse presidentsverkiesing. Die breë sosiale media kan egter nie so maklik onderskei tussen werklike nuus, en opperste wolhaarstorie nie. ’n Goeie joernalis of nuuspraktisyn, is immers opgelei en gekonfyt in die omgaan van inligting.

Nuusplatfoms in die kuberruim is waarskynlik nou die naaste wat ’n mens kan kom aan ’n futuristiese koerantidee. Met ’n tablet is dit net so “draagbaar” soos ’n koerant, en met nuus op die selfoon, selfs meer. Anders as die koerant word dit deurlopend opgedateer. Dit kan self uitsendings doen, soos klankgrepe, en ook video-insetsels plaas. Nuutgeplaasde nuus is net so dadelik aan ’n Afrikaanse leser in Nieu-Seeland as in die VSA beskikbaar.

Daar is egter ongelukkig diegene wat tegnologies opsien teen die nuwe moontlikhede.
En groot korporatiewe adverteerders moet dikwels nog oortuig word dat hierdie nuusplatvorms ’n doeltreffende manier is, en ’n beduidende aandeel van ’n mediamengsel verdien. Die lesersgetalle kan immers bewys word.