SANParke: Rondomtalierit in Mei/Junie 2016

Salomi Louw

In Mei 2016 wou ek in Weskus Nasionale Park/Langebaan wees vir SANParke ereveldwagters se Algemene Jaarvergadering/Indaba/kursusse. Dis vreeslik ver om te ry vir ‘n week se gebeure, dus is dit die moeite werd om die reis te verleng en ander plekke in so ‘n tog in te sluit.

Omdat afstande so groot is, moet jy ook rustig ry en, natuurlik (vir my), langs die pad voëls kyk. Die getroue en beduimelde Southern African Bridfinder* is natuurlik my pad- en voëlkykgids.

Dag 1: ‘Red Sands’ net wes van Kuruman is altyd ‘n lekker oornagplek met Rooioogtiptol, Groot¬rooi¬valk, Bleekvlerkspreeu, Feëvlieëvanger, Namakwasuikerbekkie en Priritbosbontrokkie tussen al die ander voëls deur. Maar die sneeuwind uit die Noordpool waai verwoed en veel meer as genoemde voëls is nie te sien nie; ook staproetes – waar ek voorheen verskeie wildsoorte en ‘n verskeidenheid bome kon sien – is uitgesluit weens die koue en rooi stofwalms.

Dag 2: Die plan was om in ‘Oranjerus’ naby Kanoneiland te oornag, maar daar was niemand by ontvangs nie. Dis nog vroeg en ek ry rond. Uiteindelik bevind ek my laatmiddag by ‘Die Eiland’ in Upington. Vermy dié kampeerplek ten alle koste: vuil, verniel en verwaarloos. Sien darem enkele voëls, maar dit vergoed nie vir die toestand van die kampeerterrein nie.

Dag 3: Vanaf Keimoes oor Kenhardt ry ek vir meer as 100km in ‘n mistonnel waar jy beswaarlik 50 meter voor jou kan sien. Dit word ‘n lang, stadige tog. Gelukkig klaar die mis voor Brandvlei op. Met ‘n vorige uittog het ek spesiaal Pella toe gery om die Rooilewerik – sonder sukses – te soek.

Die Birdfinder sê dat die Rooilewerik ook te vinde is op die Granaatboskolkpad ± 2km noord van Brandvlei en dan moet jy na 2km op die uitkyk wees vir dié voël. Ek het eger pas op dié roete afgedraai of ‘n kontante voël kom land skuins voor my en huppelspring onder die bossies in: Rooilewerik! Hy is egter so vinnig onder die karoobossies in en uit dat dit moeilik is om ‘n foto te neem, maar ek het darem een herkenbare as bewys!

Dis my eerste lang rit nadat die VW nuwe vering en bande gekry het en ek is nog versigtig – het voorheen al te veel kere die ding se pens stukkend gestamp en ook vasgesit; na die onlangse reën bestaan die aangeduide pad nie meer nie. Jy moet tussen die bossies langs die pad ry. Ek trek kleinkoppie en draai liewers om.

Selfs al kyk die dorpsbewoners my vreemd aan, ry ook oos van Brandvlei na die Sakrivieromgewing en kry nog voëls vir my ritlys, soos die Swartoorlewerik, Rooioorlangstertjie en Namakwalewerik. Bo my sweef ‘n Witkruisarend met ‘n Witborskraai wat hom dan op die stert, dan op die rug of vlerk aanpik, maar die arend ignoreer die aanvaller en hou aan met sy swenkelende draaie.
By die oostelike ingang van Calvinia is ‘n oornagplek, ‘Klein Plasie’, letterlik op die rand van die dorp en met ‘n veld en skraapdamme oorkant die pad waar ook ‘n verskeidenheid voëls en springbokke gesien kan word. Die grootste gedeelte van die res van my dag hier het ek egter gewy – soos aanbeveel deur Birdfinder – aan ‘n besoek aan Akkerendam Natuurreservaat. Na die onlangse reën was die paaie egter so onbegaanbaar dat ek nie veilig gevoel het om dit ver met my VW Transporter aan te pak nie. Indien ek sou vasval, was die kans op hulp en redding naby aan nul. Talle nuwe voëls vir my ritlys is wel hierdie dag aangeteken, soos Grysruglewerik, Grystjeriktik, Grysborstjagra, Grootlangtoon, Versamelvoël, Geelkanarie en Vaalstreepkoppie. In dié omgewing is springbokke natuurlik ook algemeen.

Dag 4 reis ek vanaf Calvinia na Tankwa Karoo Nasionale Park op slipglibberige en wateroorstroomde paaie (of daar verby deur die veld) en oor/deur botterboom-oorgroeide bergpasse (die Bloukrans¬pas) om vir 3 nagte in Tankwa se Perdekloof te gaan kampeer waar elke eenheid beskik oor ‘n stort-/badkamer, toilet en ‘n kombuisdeel – met sonkragwarmstelsel (as die son skyn!) en minus elektri¬siteit.

Vir vier dae beproef ek die paaie waarvoor ‘n voertuig met hoë grondvryehoogte en meestal 4×4 nodig is (maar ek en my VW hanteer die uitdagings terwyl ons ook voëls kyk en ‘n goeie verskeidenheid aanteken). In die mis en reën pak ek ook die (angswekkend in hierdie weersomstandighede) Gannapas aan waar die pad nie net glibberig is nie, maar ook op ‘n stadium bestaan uit twee opgeboude spore van los leiklippe – draai links of regs uit die spore en jy gly die afgrond in! Daar is ook nie plek (nes teen Lenong uit) vir twee voertuie om by mekaar verby te kom nie.

Bo-op Gannapas is alles in mis en reën gehul en die pad onhanteerbaar glyerig, maar Withalskraaie ry op die rûe van skape; Kopereende en Wildemakou plas in die modderdamme.

By Middelpos aangekom sê die pompjoggie die beste pad na Tankwa is terug oor dié (uitmergelende) Gannagapas – waarvoor ek nie kans sien in die mis, wolke en reën nie. Die pad na Sutherland, sê hy, is baie sleg en ek moet liewers met die Gannagapas terrug¬gaan. Ek is vasbeslote: om in die mis en reën met dié pas af te gaan na Tankwa Karoo NP is meer as wat ek van myself (en my voertuig) kan verwag.

Ek ry dus voort na Sutherland – en sowaar, seker die slegste pad wat ek in my lewe gery het, want hulle werk daaraan: een kant is totaal geslote; die ander bestaan uit sowat 1½ meter hoë opvullings met klippe/rotse/grond waaroor jy stadig en versigtig tussen skop¬grawe en stootskrapers deur moet ry (ten minste werk hulle aan die paaie!).

Oor Bo- en Onderwaterdrif is ek uiteindelik terug by my kampeerplek in Perdekloof; het darem tydens dié roete Bokmakierie, Karoolewerik, Koper-, Swart- en Teeleend en Wildemakou aangeteken asook Kelkie¬wyn, Karoospekvreter, Bergkanarie en Jangroentjie.

Die Kaapse fisant skrop nes in die kampeerterrein en die Geel-, Berg- en Swartkopkanarie hou hulle nie skaars nie. Tankwa Karoo roem hulle op die teenwoordigheid van die Bloukopdrawer, maar dié het ek nie te siene gekry nie (dit wel al in Namibië op my lewenslys kon aanteken), terwyl die Kleinrooibandsuikerbekkie die wêreld vol is. My voëllys raak voller.
Tankwa lewer natuurlik ook soogdiere op wat nie aldag te siene is nie, soos troppe elande en gemsbokke.

Ek het die oriënteringskurus vir Tankwa gedoen bloot vir selfverryking en ook omdat toeriste ons so gereeld uitvra oor ander Nasionale Parke – sonder dat ek dit oorweeg het om daar te gaan diens doen. Die kursusleier (Willie Engelbrecht) het egter gesê dat hulle hulp soek tydens die blomseisoen. My verblyf in die Park het my gewen vir diens. Toe ek met die dienskoördineerder in Tankwa gesels oor moontlike diens, het sy gesê dat hulle blomseisoen vroeër is as Namakwa s’n en hulle hulp nodig het vroeg Augustus. Ek het dit daar gelaat.

Dae hoeveel later: In Langebaan (Leentjiesklipkampering) by Weskus Nasionale Park vir ‘n week.

Die Hartlaubmeeue is ‘n verpesting. Swarttobies en Grootswartrugmeeue is al die rotse vol. Bank- en Trekduikers doen gereelde verblyvlugte; die Witpelikane vorm V-vlugte teen die hemelruim terwyl Bergpatrys in die onderbos rondploeter; talle ander voëls is te sien en selfs van die Grasvoël kan ek ordentlike foto’s neem. In die kampeerterrein by Leentjiesklip is ‘n gesin Dikkoppe heeltemal tuis tussen die kampeerders. My ritlys groei aan.

Hier naby, in Langebaanweg, besoek ek die ‘West Coast Fossil Park’: wat ‘n belewenis! Menseskedels van sowat 200 000 jaar oud; ‘n Afrikabeer amper die grootte van ‘n volwasse man; kortnek kameelperd; sabeltandtier en 4-tand olifant wat in dié omgewing floreer het se fossiele is hier vasgevang in sand/modder. Dit was destyds ‘n tropiese plek.

‘n Praatjie deur Pamela van ‘Pelican Watch’ tydens die Indaba is interessant. Sy vertel onder andere hoe die pelikane die eiers en kuikens van Malgasse vreet: daarom word daar tydens broeiseisoen mense gebruik om die voëls op Malgaseiland op te pas en te beskerm.

In die week by Langebaan besoek ek die Weskus Nasionale Park bykans daagliks. Klein, maar pragtig, en dié tyd van die jaar eintlik maar sonder blomme.

Twee weke nadat ek uit Pretoria weg is, ná die Indaba, vertrek ek uit Langebaan om nog Nasionale Parke in te pas. Eers volg Agulhas – met darem enkele bloukraanvoëls, dan Bontebok en Wildernis (Tuinroete NP) vir ‘n week.