Oos van die Weskusroete

Berig deur Pieter Coetzee

Gedurende Septembermaand het ek saam met Justin en sy gesin die blommetoer afgesluit by Langebaan. Die Weskus Nasionale Park is die beste plek naby Kaapstad om blomme te gaan kyk, sonder om al die pad op te ry tot in Namaqualand.

Begin Oktober het ek en my vriend Kobus, van Umkumaas aan die Suidkus van Natal, wat in die Kaap kom kuier het, besluit om weer die Weskusroete aan te pak. Alhoewel die blomtyd verby was, wou ek hom die Weskus tot by Langebaan gaan wys, ’n paar dae daar oorbly, Darling gaan besoek en dan binneland toe skiet na Porterville wat beide van ons sê aandag getrek het.

Ongelukkig is die roete na Potsberg, binne die Weskus Nasionale Park, waar die mooiste blomme te sien is, net gedurende die blomme tyd vanaf Augustus tot September oop. Hiervoor moet jy wag vir blommeseisoen voordat jy die lieflike uitsig oor Langebaan strandmeer bo vanaf die Potsberg kan geniet. Daar was dus geen doel om die Weskus Nasionale Park te besoek nie.

Wat ons ook nie in ag geneem het nie, was die feit dat dit ook skoolvakansie was en geen redelike behuising by Langebaan beskikbaar was nie. Ons planne het skielik verander en het toe besluit om die vanaf Langebaan die roete na Piketberg aan te vat.

Die pad neem ons toe deur Hopefield en Moorreesburg. Ek sal eerlikwaar hierdie roete nie nou vir die volgende twee jaar aanbeveel nie met al die stop-en-ry terwyl hulle hierdie pad letterlik oorbou. Nie een van die twee dorpe het na die moeite werd gelyk om akkommodasie te soek nie en het ons deurgedruk na Piketberg.

Jy kan die N7 vanaf Kaapstad na Piketberg aanpak of jy kan die Weskusroete neem en afdraai by die skilderagtige dorpie van Yzerfontein. Hiervandaan kan jy jou pad vind deur Darling na Piketberg.

Aangesien ons vanaf Langebaan die kortste pad na Piketberg geneem het omdat die tyd ons begin inhaal het, het ons Darling gemis en hou dit oop vir ’n besoek op sy eie. Hier bedryf die befaamde Pieter Dirk Uys, of meer bekend as Evita Bezuidenhout, die teaterhuis op die Peron van die ou stasie. Darling se wyne is ook redelik bekend asook die Craft bier wat hulle daar brou. Soos al die dorpies in die omgewing beskik dit oor baie kuierplekkies en nutswinkeltjies.

Piketberg was ’n aangename verrassing, daar waar dit aan die voet van Piketberg teen die Piketberge gelê het. Hier het ek een van die grootste Spar winkels gesien wat ek nog op die platteland aangetref het, met beslis die grootste besigheidsentrum van al die dorpe in die omgewing.

Dié dorp, net soos die kleiner dorpies om Piketberg, is rustig deur die week tot Saterdag aanbreek wanneer die plaasarbeiders, wat weekliks betaal word, op die besighede toesak.
Die dorp is in 1836 gestig toe sir Benjamin D’Urban die plaas “Grotefontein” aan die kerkraad geskenk het. Die eerste erwe is in 1841 verkoop. Die kerk het die dorp tot 1901 bestuur. Die spoorlyn na Bitterfontein het die dorp in 1902 bereik. Die naam Piketberg is afgelei van die ou Nederlandse woord, picquet, wat van Frans ontleen is en militêre wagpos beteken. So ‘n pos is reeds in die 1670’s aan die voet van die berge gestig om die boere te beskerm teen strooptogte van die KhoiSan-stamme.

Soos op baie ander dorpies in Suid-Afrika is die grootste gebou die NG kerkgebou. Piketberg spog met ‘n besonder indrukwekkende voorbeeld hiervan wat deur die argitek Carl Otto Hager in sy kenmerkend Neogotiese styl ontwerp is.

Die Moutonshoek vallei, bekend vir sy vrugte soos appels, pere en sitrus, is teen die oostelike hange van die Piketbergberge. Die vars reën- en fonteinwater vanaf die Piketberge dreineer in ‘n kom waaruit die Krom Antonies Rivier, die hoofbron van die varswater, bo- en ondergronds, wat weer op hul beurt een van die belangrikste en mees sensitiewe vleilande in die wêreld, Verlorenvlei, voed.

‘n Plekkie verweef in die voorgeskiedenis van Piketberg, is die klein weggesteekte dorpie net om die draai vanaf Piketberg, ‘n regte klein paradys aan die voet van die berg met ‘n rivier wat daardeur vloei. Hierdie was die plaas Burgershoek wat in die vroeë 1800’s aan Hendrik Schalk Burger behoort het.

Op sy oudag het Burger se kinders hom verwerp en het die slawe op die plaas, naamlik Maniessa en haar vyf kinders, Burger tot sy dood versorg. Dit het dan ook daartoe gelei dat hy die eiendom van sowat 800 hektaar aan die slavin en haar kinders gelaat het met die doel dat dit aan almal van hulle ’n permanente tuiste tot hulle afsterwe kan bied.

Burger se kinders was glad nie tevrede hiermee nie, maar die hof het beslis dat die testament geldig is en as sodanig uitgevoer moes word.

In 1859 het sendelinge die buurplaas Wittewater bekom en in 1888 wettiglik die plaas by Maniessa se afstammelinge gekoop. Die sendelinge het die plek gebruik om slawe, wat reeds ’n paar dekades vroeër hul vryheid ontvang het en sonder heenkome was, ’n tuiste te bied.

Dit het gelei tot die daarstelling van die Goedverwacht Sendingstasie, net af van die hoofpad tussen Piketberg en Velddrif. Die grafte van Burger, Maniessa (oorspronklik van Indiese afkoms) en die van haar nasate is duidelik uitgemerk.

Ons het twee nagte by De Berge Gastehuis in die hoofstraat van Piketberg oorgebly waar Pikkie en Elanie goed na ons gekyk het. Die kamers was smaaklik ingerig en teen ’n billike tarief het dit ook reggestaan vir diegene wat selfsorgeenhede sou verkies.

Op die Historiese Roete in Piketberg, sal jy op een van die min staande Bio Café geboue afkom. Die gebou is in 1920 gebou en het in sy tyd ook as danslokaal en bioskoopsaal gedien. Die Bio-konsep was daarop gebasseer dat jy enige tyd van die dag vir ‘n tiekie toegang kon kry en die film kon kyk. As jy in die middel van die film begin kyk hoef jy net te wag totdat die film weer van vooraf gedraai word om nie die eerste gedeelte te mis nie.

Nog ‘n geskiedlundige plek is die ou ‘Commercial Hotel’ wat in 1895 gebou is en sy deure vir besigheid vir die publiek in 1898 oopgemaak het. Die meeste van die gebou se oorspronklike toebehore, soos smee ysterwerk asook die meubels is vanaf Engeland bestel en per ossewa op Piketberg afgelaai. Vandag dien dit as ‘n gastehuis.

Verder Noord van Piketberg is Citrusdal en soos sy naam uitspel word vrugte ook in hierdie gebied, naas koring, verbou. Bo op die Piekenierskloofpas, deel van die N7, wat deur die berge tussen Citrusdal en Piketberg vleg is daar ’n padstalletjie waar jy gerus kan aandoen vir ’n lekker koppie koffie en ’n verskeidenheid van disse op die spyskaart.

Die stalletjie, by name van Kardoesie, beskik oor ’n restaurant en ook ’n oulike winkeltjie met allerlei aandenkings te koop. Buite kan jy oor die hele vallei onder die berg uitkyk. Akkommodasie is ook beskikbaar vir diegene wat dit as sentrale punt wil gebruik om die omgewing te verken, of as oornagplek op die Kaap-Namibië roete, net sowat een en ’n half uur se ry vanaf Kaapstad.

Piketberg kan baie aan die avontuurlustige toeriste bied asook aan die wat net rustig wil verkeer. Vir meer inligting hieroor, besoek gerus www.piketbergtourism.co.za

Sowat 23 km uit Piketberg, op pad na Tulbagh, ry jy deur Porterville, ’n tipiese aftrede dorpie met sowat 9 000 inwoners.
Hierdie prentjiemooi dorp aan die voet van Voorberg onderkant die hange van die Olifantsrivier berge is in 1863 deur Fredrick John Owen, oorspronklik een van die Britse setlaars wat in 1820 voet aan wal gesit het, gestig toe hy sy plaas Pomona, in plotte opgedeel het en die dorp na Sir William Porter, destydse Landmeter-generaal aan die Kaap vernoem het.

Hierdie gebied was voorheen deur die KoiSan stamme bewoon wat baie van hulle rotskuns nagelaat het. Die bekendste rotstekening is die van ’n seilskip wat in die Groot Winterhoekberge gevind is.

Die dorp is ook bekend vir die feit dat een van Suid-Afrika se skaarste blomme, die Disa Uniflora, natuurlik hier in velde voorkom. Die skaarste is die swaelgeel Disa wat net in ’n klein kolonie in Porterville voorkom.

Porterville het seker die uiterste van klimaatsverandering wat wissel van droë warm lugstrome wat dit ideaal vir skermsweef maak in die somer, tot erge winters met sneeu in die berge en die Kaapse stormweer wat van die Weskus af aangerol kom.

Die Groot Winterhoek Natuurreservaat, aan die Oostekant van Porterville, met lieflike uitsig bo van die berg af kan hiervandaan bereik word met die Dasklip Pas.

Verskeie dagstaproetes is beskikbaar vanaf die parkeerterrein. Verskeie bergriviere kom ook hier voor. In die somer is daar nie noodwendig lopende water nie, maar in die wintermaande kan die riviere sterk afkom en gevaarlik raak om oor te steek.

Vir meer inligting oor die Groot Winterhoek Natuurreservaat, besoek gerus die webblad by www.capenature.co.za/reserves/groot-winterhoek-wilderness-area.

By Die Hel en De Tronk is daar dramatiese rotsformasies, ryk aan plante en dierelewe. Die Waterval roete neem jou tot waar die water neerstort op die rollende koringlande wat die vlaktes bedek. Een van die redes wat gelei het tot die totstandkoming van die Natuurreservaat is juis om die Kaapse fynbos volop daar voorkom, te beskerm. Die reservaat bestaan uit 30 608ha, waarvan 19 200ha tot wildernisarea in 1985 verklaar is.

Die reservaat is ook ‘n belangrike bron van skoon water vir die Kaap Metropool aan die Weskus asook vir buitemuurse ontspanning.
Die verweerde Tafelberg sandsteenrots met sy unieke rotsformasies in die reservaat, is die moeite werd om te sien.

Skaars 20km verder op die R44 kry jy die afdraai na Tulbagh en die Tulbaghvallei. Die vallei, met sy oorvloed van plante en dierelewe, is in 1659 deur Pieter Potter, Landmeter-generaal in diens van die Kaapse eerste Goewerneur, Jan van Riebeeck ontdek.

Gedurende 1699 het 14 boere hulle hier gevestig maar die dorp het eers teen 1743 sy bestaan gekry toe die eerste kerk, huidig die museum, daar gebou is. Hierdie dorpie, uniek deur die berge wat dit omring, is ook bekend vir sy landgoedwyn wat verskeie geslagte terug dateer tot die begin van die wynbedryf aan die Kaap.

Voordat padbou ingenieurs die formidabele berge om Paarl en Wellington oorkom het, was Tulbagh die laaste stop vir mense met hul trekwaens voordat hulle die ongetemde binneland vanaf die Kaap van Goeie Hoop na die Noorde betree het.

Die talle gastehuise en wynplase in die omgewing maak dit een van die sentraalste plekke om te bly terwyl jy die omliggende wynplase en besienswaardighede besoek.
Hier hoef jy nie verveeld te wees nie. Daar is iets te doen vir een en almal. Buiten die feit dat dit talle voëlkykers lok, is daar ook aktiwiteite soos perdry, bergfietsry, staproetes en ‘n hele paar roetes wat jy met die motorvoertuig kan doen.

Ons grootste teleurstelling was die feit dat die lekker boere restaurant met sy bobotie en ander Suid-Afrikaanse disse by Paddagang wyne, wat ons sowat agt jaar tevore besoek het, plek gemaak het vir ‘n Belgiese Restaurant met ietwat volksvreemde disse. Daar was ook geen sig van Paddagang wyne nie. Ons het nie eens verder probeer uitvind of hulle steeds bestaan of nie.

Ons het toe besluit om middagete by die Tulbagh Hotel te nuttig en was besonder verras deur die netjiese fasiliteite en verskeie kuierhoekies wat dit bied. Voeg nog goeie diens en kos hierby en ek beveel dit vir almal aan wat so ‘n ruskansie met ‘n koel wyn in die hand soek.

Slegs 90 minute se ry vanaf Kaap Stad, is dit ook ‘n gewilde wegbreek na een van die mooiste plekke in die land.
Verskeie feeste word deur die jaar op Tulbagh aangebied waarvan Kersfees in die Winter en die Lente Kunstefees, wat jou ‘n wye keuse van visuele kuns sowel as uitvoerende kuns bied, aangebied.

Vir meer inligting oor Tulbagh, kontak gerus hulle vriendelike Toerisme kantoor by 023 2301357 of besoek hulle webblad by www.tulbaghtourism.co.za en www.tulbaghwineroute.com.

Met jou besoek klaar afgesluit, neem die rustige terug na Kaapstad. Indien jy ingevlieg het, maak gerus gebruik van die oornag fasiliteite by die Boston Gastehuis in Bellville. Daar is min wat die vriendelike ontvangs en diens van Mervyn, jou gasheer en sy span gaan oortref.

Daarvandaan is dit ongeveer ‘n halfuur se ry tot by Kaapstad Internasionale Lughawe, mits jy jouself nie in spitsverkeer bevind nie.

Breek weg vir ‘n langnaweek en doen hierdie roete. Jy gaan nie teleurgesteld wees nie. Doen jou beplanning vroegtydig. Met goedkoper vlugte en buite seisoen tariewe en met alles so bymekaar is ‘n goedkoop gehuurde motor voldoende. Dit hoef nie vir jou ‘n fortuin te kos nie.

Met ons volgende toer vat ons die pad saam met Salomi vanaf Pretoria na Langebaan en skryf sy meer oor al die voëls wat sy langs die pad gesien het.

Daarna volg ons dit op met verslag oor die bootreis as ek en Kobus terugkeer na vyf dae se vaart op die Simphonia na Mosambiek.