Korea – ‘n moet op jou emmerlysie

Carine Mostert van Thabazimbi het onlangs daar ‘n draai gemaak en deel haar ervaring met Kwêvoël.

Korea, bekend vir die berugte diktatorskap in Noord Korea, is baie min mense eintlik bewus van die vooruitstrewende land aan die Suide kant – die Republiek van Korea, of meer bekend as Suid Korea.

Ek het onlangs die voorreg gehad om vir ‘n vriendin, werksaam in die televisie industrie en wat daar was tydens TV opnames, te gaan kuier. Hier het ek tot die geskokte gevolgtrekking gekom dat daar buite ‘n ander wêreld, ver verwyder buite ons verwysingsraamwerk, bestaan.

Die boustyl van die ou geboue en paleise verbeeld almal die tipiese Oosterse styl met sterk Chinese invloed. As deel van die Chinese kultuur word die jare in siklusse van 12 jaar geklassifiseer. Vanjaar is byvoorbeeld die jaar van die aap. Hier hou die kultuur skok nie op nie. Neem maar die Kia motors vanuit Suid-Korea wat ‘n groot impak op die Suid-Afrikaanse motorhandel het. Hier het jy te doen met mense, ‘n nasie, met hul eie kultuur.

Alhoewel Koreaans,  tiperend van die Chinese en Japanese-skryfstyl, as een van die maklikste tale in die wêreld beskou word om te lees ten opsigte van sy fonetiese benadering, is die enigste probleem dat jy dit binne ‘n halfuur kan lees maar jy gaan net nie verstaan wat jy lees of sê nie.

Die eerste ding wat my opgeval het was die feit dat daar geen skoene in huise toegelaat word nie, jy trek jou skoene uit by die deur en bid net dat jy vanoggend die paar gevat het sonder aartappels. Vanweë die vinnige verstedeliking na die Koreaanse oorlog in die vroeë sestigerjare, wat gelei het tot die skeiding tussen Noord- en Suid-Korea, is die rioolstelsels in hulle hoofstad Seoul, baie sensitief. Daar is ‘n asblik langs elke toilet en mens mag glad nie toiletpapier wegspoel nie – dit klink makliker as wat dit gedoen word… Op my beste dag het ek net twee keer vergeet. ‘n Groot bydraende rede tot die verwerking van riool.

Tog het die stadsbeplanners van Seoul deesdae volle beheer oor die rioolprobleme wat die stad ondervind. Toiletpapier is maar een van die struikelblokke, maar so ver dit die verwerking van riool aan betref is die hele rioolstelsel van sowat 10 487km onder beheer. Hierdeur het hulle dit moontlik gemaak dat die Han Rivier, waarin die riool uiteindelik beland het na gereelde vloede en die gebrek aan suiweringsaanlegte, nou heeltemal veilig is om in te swem.

Die Koreane is die mees eerlike nasie wat ek nog teëgekom het. Jy kan jou handsak op ‘n trein vergeet en dit die volgende dag – met al jou geld en kaarte nog daarbinne – op die stasie kry. Buddha maak ‘n groot deel uit van die Koreaanse kultuur, maar in teenstelling daarmee is die meeste gelowiges Protestantse Christene.

Hulle besigheid-ure is van 10-uur voormiddag tot 10-uur saans. Aftrede of op pensioen gaan speel nie ‘n rol in hierdie land nie. Oral langs die pad kry mens nog 80 jarige tantetjies wat sit en kos of goedere verkoop – dis geen wonder hulle een van die lande met die meeste ou mense is nie. Om inkopies te doen is enigiemand se droom! Die klere is spotgoedkoop en gehalte wat jy nie kan bevraagteken nie. Niks soos die ingevoerde Chinese klere wat jy deesdae in die meeste van Suid-Afrika se klere-kettingwinkels aantref nie.

Restaurante was vir my, eenvoudig gestel, ‘n ander storie. Sommige restaurante het geen kelners gehad nie. Jy kry self ‘n tafel en van daar waar jy sit, skreeu jy vir die vrou agter die toonbank wat jy wil hê. In restaurante waar daar wel kelners is, kyk hulle jou snaaks aan as jy vir hulle ‘n diensfooi wil gee, dis ‘n konsep wat hulle glad nie verstaan nie. Daarby is hulle nie Engels-magtig nie. Jy het maar aanvaar dat ‘n verassing op jou wag met elke bestelling. My persoonlike gunsteling verassing was ‘n liter vol swart koffie oor ‘n beker met ys gegooi. Ek wou eintlik ‘n sjokolade “macaroon” gehad het.

Die goeie nuus is dat daar nie honde of katte op die spyskaart is nie. Hulle is ook nie lief vir skaapvleis nie en dit is ook nie op die spyskaart nie. Daar is egter lewendige seekos markte waar hulle die seediere voor jou opsny en in ‘n branderige sous druk om te proe. Hierdie oefening het ek liewer laat verby gaan. Daarby was ek nie seker of daai seekat vinniger sou afgaan of opkom nie.

Hulle Koreaanse braai was ook nogal ‘n belewenis. Die vleis word in die middel van die tafel gebraai oor kole en dan in uie en knoffel. Die “Kimchi” word in slaaiblare toegedraai en soos ‘n pakkie in een hap geëet. Eenvoud is ook aan die orde van die dag. Daar is net een soort alkoholiese drank naamlik Soju. Dit is baie goedkoop en almal drink dit. As ek dit moet vergelyk met iets in SA is dit soos ‘n afgewaterde Vodka, net sonder die afgewaterde gevoel die volgende oggend.

Inwoners word nie toegelaat om troeteldiere aan te hou nie as gevolg van die digte bevolking van die stad waar almal bo-op mekaar bly. Daar is egter troeteldier-kafees waar jy betaal om ‘n kat, hond of skaap vir ‘n tydjie te streel. So word daar darem kontak gehou met die troeteldiere met hul onvoorwaardelike liefde.

Hierby is al die strate in Korea silwerskoon, dit nieteenstaande die feit dat daar geen asblikke te vinde is nie. Die inwoners is baie streng ingestel op herwinning maar dit sal te veel kos, buiten die gebrek aan spasie, om vyf verskillende asblikke op elke hoek te plaas vir die afsonderlike herwinbare afval. Hulle beskou dit as werkskepping as jy jou leë skyfie pakkie of koeldrankbottel of wat ook al, net te los daar waar jy dit gebruik het. Binne ‘n uur het iemand dit kom optel wat dit op sy eie uitsorteer en terselfdertyd geld verdien.

In ‘n neutedop: Die belangrikste les in Korea was seker die mense. Dit was wonderlik om ‘n land te sien wat sy eie probleme oorkom. Waar niemand geblameer word vir jou tekortkominge nie. Rassediskriminasie bestaan eenvoudig nie daar nie.

Jy moet die beste wees of anders gaan jy dit nie maak nie. Niemand gee om oor die klein dingetjies nie. Hulle is lawaaierig as hulle eet, daarby snuif hulle die heeltyd en doen, volgens my persepsie, totaal onaanvaarbare dinge. Niemand steur hulle hieraan nie. Hulle spaar hulle omgee vir die dinge waaroor almal in die wêreld behoort om te gee naamlik eerlikheid, opregtheid, die wil om heel-bo uit te kom en om jou familie te eer en jou kinders te ondersteun.

Die werksure is ‘n derde langer as in Suid-Afrika, maar niemand staak nie, dit is hulle kultuur, ‘n werkers-kultuur, ‘n werk-trots-kultuur. As daar een ding is wat ek wens ek kon saambring is ‘n emmertjie daarvan ter wille van ons mooi land se ekonomie.