Nkandla: AfriSake vra betalingsbewys met regsproses aan

Die sakeregtewaghond AfriSake het met regstappe begin om die betalingsbewys waarmee pres. Jacob Zuma na bewering die bedrag van R7,8 miljoen terugbetaal het, aan te vra. Dit volg nadat die tesourie vandag ’n mediaverklaring uitgereik het dat Zuma die bedrag van R7 814 155 aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank terugbetaal het in terme van die Konstitusionele Hof se bevel vroeër vanjaar.

Die hofbevel van 31 Maart 2016 bepaal nie dat die geld aan die Reserwebank betaal moes word nie, en die mediaverklaring verwys ook nie wanneer die geld betaal is nie. Geen betalingsbewys is aangeheg nie.

“Suid-Afrika het nodig om die Nkandla-saga agter hulle te sit en om dit te doen, kort miljoene Suid-Afrikaners meer as die woord van die presidensie; ons kort ’n betalingsbewys van die president self,” sê Stefan Pieterse, AfriSake se woordvoerder.

AfriSake het die betalingsbewys met ’n regsproses ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) aangevra. “Die presidensie het nou 30 dae kans om daarop te reageer,” het Pieterse afgesluit.