Vrou in liefde verlaat by KunsteGrot

THABAZIMBI – Fliekgangers deel vanaand, 26 Augustus, by die KunsteGrot in Thabazimbi die landswye vrystelling van “Dis Koue Kos Skat, ‘n film gebaseer op Marita van der Vyver se komediese roman met dieselfde titel. Die verhaal vertel die storie van ‘n vrou, Clara, in die liefde verlaat deur haar ontroue man Barend, wat haar los vir een van haar beste vriendinne, Anaïs en strek oor ‘n dekade van briewe gerig aan haar ontroue man en vriendinne.

Sy trek af Kaap toe waar sy haar passie vir kosmaak herontdek, maak nuwe vriende en betree weer die wêreld van verhoudings met die teenoorgestelde geslag.

Dit is nie pynloos nie, en gedurende haar herstelproses moet sy vrede maak met die woede wat in haar heers, maar daarmee saam kom aanvaarding, vryheid en ‘n nuwe sekslewe. Nieteenstaande al die nuwe belangstellinge in haar lewe is Clara heeltyd besig om weerwraak gedagtes te koester teenoor die mense wat haar versaak het.

Sy besef die belangrikheid daarvan om kontak met haar eksman te behou in ‘n poging om hulle kinders groot te maak sonder die stigma wat aan egskeidings kleef en hou voortdurend kontak met hom.

Wanneer Barend se tweede huwelik ook verbrokkel en hy weer by Clara toenadering soek, besef sy dat sy van hom verlos is en net as vriendin saam met hom kan aansit vir ete.

Die agtergrondmusiek word verskaf deur een van die briljante musikante in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, Schalk Joubert.

Anna- Mart van der Merwe, keer na ‘n lang afwesigheid in die filmbedryf terug as Clara. Die res van die rolle word vertolk deur Deon Lotz, Elzabe Zietsman, Frank Opperman, Angelique Gerber, Deanre Reiners en Zonika de Vries.

Die vertoning begin soos gewoonlik om 19:00. Sorg dat jy vroeg genoeg daar is. Saterdagoggend 27 Augustus is daar ook ‘n vertoning om 10:30. Toegang beloop R50 per persoon.

Vir meer inligting kan Rita Volschenk geskakel word by 083 7449559.