Tyd vir die Boeremusiek Gilde se Boeremusiekfees

LEEUPOORT VAKANSIEDORP – Die Boeremusiek Gilde is hard besig om voorbereiding te tref vir die Boeremusiekfees wat op 10 September by Leeupoort Vakansiedorp aangebied word. Soos gewoonlik beloof dit om ‘n dag te wees van lekker kuier, braai en skoffel op die maat van lewendige Boeremusiek.

Feesgangers kan vanjaar weer uitsien na boeremusiek van hoë gehalte deur orkesleiers soos Hannes Schoeman, Paul Roodt, Paul Ferns, Johan van Vuuren, Willie Mynhardt en Willie Jooste. Voeg hierby ‘n paar nuwe orkeste soos die Magalies Boereorkes wat vinnig besig is om geskiedenis te maak omdat hulle uniek in die in die sin van Boereorkeste is.

‘n Boeremusiek-orkes bestaan gewoonlik uit ses musikante maar hierdie Magalies Boere-orkes van Lourens van Zyl bestaan uit tien musikante en het vanjaar by die KKNK in Oudtshoorn mense op hulle voete gehad. Hierdie orkes spog met drie konsertinaspelers wat gelyktydig speel, en sluit ook twee dames in wat serfyntjies bespeel.

Drie puik junior orkeste gaan ook optree. Onder hulle is die 8-jarige wonderkind van boeremusiek, Kosie Beukes, wat reeds 13 verskillende instrumente kan bespeel en sy eie orkes saambring. Nog ‘n musikant, die 11-jarige Coenraad Harms, gaan saam met sy vier sussies, ook luister aan die program verleen.

Soos gewoonlik gaan daar baie tradisionele kosstalletjies wees en die dansers kan hulleself geniet.

Vir Navrae en meer inligting, kontak Pieter Bodenstein by 082 410 1655 of Spokie Krause by 078 836 9149.

Foto:
Die Magalies Boere-orkes van Louwrens van Zyl wat uit 10-stuks bestaan.