Goud, silwer en brons vir HFM boogskuts

THABAZIMBI – HFM se boogskuts het presteer toe 13 leerlinge die naweek van 20 en 21 Augustus te Broederstroom aan ‘n “field” kompetisie deelgeneem het. Die kompetisie het oor twee dae gestrek waar die skuts ten minste 130 pyle per dag moes skiet. Ten spyte van die sterk wind en 9.7 km baan, het die HFM skuts besondere prestasies behaal.

In die Junior Male Bowhunter Unlimited kategorie het Nicky Keeny Goud sowel as sy nasionale kleure in boogskiet verwerf.

Eduan Vorster verwerf Silwer as ook sy nasionale kleure. Eduan is onlangs uit die skool, maar skiet steeds vir die skool se boogskietspan.

Diaan Burger het sy persoonlike beste geskiet en verwerf ‘n Bronsmedalje.

In die Junior Female Bowhunter Unlimited kategorie het Chiara Iorio Goud verwerf maar ongelukkig mis sy kwalifisering vir nasionale kleure met 2 punte.

In die Junior Female Freestyle Unlimited Kategorie verwerf Carmen Strydom ‘n Silwermedalje, ‘n baie goeie prestasie in ag genome dat dit die eerste kompetisie is waaraan sy deelgeneem het. Ongelukkig mis sy haar kwalifisering vir nasionale kleure met 5 punte.

En dan, HFM se eie Robin Hood, Cobus Marais, wat tydens die kompetisie twee keer sy pyle “gerobin” het.

Op die foto is van die presteerders van HFM wat tydens die afgelope naweek aan die “Field” Boogskiet kompetisie, wat op Broederstroom aangebied is, deelgeneem het.