Inlywing van nuwe raadslede – Raadsvergadering onbepaald uitgestel

THABAZIMBI – Die Munisipale vergadering wat vandag (Vrydag 19 Augustus) in die Kumba auditorium sou plaasvind, is nou onbepaald uitgestel vir ‘n datum wat later aangekondig sal word. Tydens hierdie vergadering sou die nuutverkose raadslede ingelyf word.

Jacques Smalle, Provinsiale leier van die DA in Limpopo, sê dat die DA baie bekommerd is oor hierdie duidelik vertragingstegniek wat deur die ANC aangewend word. Tydens die afgelope Munisipale verkiesing het die ANC baie steun verloor en het nie meer ‘n beslissende meerderheidstem in die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit nie.

Geen rede vir die uitstel van die vergadering is gegee nie. Kommer is ook uitgespreek dat die Modimolle/Mookgophong Munisipaliteit dieselfde probleem gaan hê aangesien die ANC in hierdie Munisipaliteit ook hul meerderheidstem verloor het.

Smalle het voorts gesê dat die DA sal geregtelike stappe neem om te verseker dat die Raadsvergadering wel kan plaasvind.