Hoe om ‘n Waterslim tuin te skep

Met een van die ergste droogtes in dekades, hopelik agter die rug, het menige tuinier gesien hoe sy tuin wegkwyn, veral in die bosveld en ander droë gebiede in die land, as gevolg van die gebrek aan genoeg water om die tuin te laat blom. ‘n Kopskuif is dalk die enigste uitweg om jou tuin steeds jou trots te maak deur minder van beperkte waterbronne afhanklik te wees.

Een hiervan is om jou tuin te omskep in ‘n waterslim tuin en daardeur verseker dat jy nie alleen ‘n mooi tuin regdeur die jaar het nie, maar ook, deur die slim manier waarop jy die beskikbare water aanwend, jou tuin steeds ‘n lushof kan wees sonder uitgerekte grasperke.

Die eerste stap na ‘n waterslim tuin is om reënwater van jou dak af na ‘n addisionele opgaartenk te herlei. Hierdie water kan jy in droë tye of in tye van waterbeperkings in die tuin gebruik. ‘n Verskeidenheid van smal en hoë opgaartenks is op die mark beskikbaar wat nie veel spasie reg teen jou huis gaan opneem nie.

Water slim tuine hoef nie droog te wees nie. ‘n Verskeidenheid van waterelemente soos voëlbadjies en visdammetjies in skadugedeeltes kan met groot sukses in die tuin aangewend word.

Voor jy wegspring om die tuin en grasperk om te dolwe, is dit nodig om beplanning te doen van wat jy in die tuin tot jou beskikking het en hoe jy dit in jou waterslim tuin kan aanwend. Eerstens moet jy sorg dat die beddings en oop areas van die tuin bedek word met deklae soos byvoorbeeld klip, boombas, ou blare, kompos, en dies meer om verdamping teen te werk. Teken ‘n plan van jou nuwe tuin en, soos jy verder gaan sal jy agterkom wat jy moet verander om dit prakties uitvoerbaar te maak.

In groter tuine kan wandelpaadjies uitgelê word om voorsiening te maak vir sitplekke naby waterbakke en voerplekke vir voëls, of miskien naby ‘n kunsmatige waterpoeletjie met sy eie watervalletjie. Hier kan jy op jou eie plekkie sit en die natuur en voëllewe om jou geniet. Plaas net al die water- en voerplekke hoog genoeg sodat dit buite bereik van katte is. Een van die belangrike elemente is juis om die tuin omgewingsvriendelik te maak sodat dit voëls, reptiele en insekte, nie alleenlik help beskerm nie, maar ook grootliks aangemoedig om self te vermeerder in die area.
Natuurlik geskepte waterstroompies en dammetjies kan in die reënseisoen gevoed word deur afvoer water vanaf die huis se dak en ander geplaveide areas. Sorg ook dat jou plaveisel sodanig is dat dit vog deurlaat om die water toelaat om die grond ondertoe te benat. Dit kan gedoen word deur jou tuinpaadjies so te plavei dat die stene nie teen mekaar raak nie. ‘n Spesiale tipe net is by hardewarewinkels beskikbaar wat verhoed dat onkruid van onder af deurgroei terwyl dit water van bo af deurlaat.

Die gebruik van waterslim plante is nie beperk tot net vetplante in die tuin nie. Plante soos olifantsoor en varkoorlelies groei welig in skaduwee, en sorg vir groot groen gedeeltes onder bome. Aalwyne, boomaalwyne, broodbome, vetplante en vele ander “water-slim” plante is ook beskikbaar. Praat gerus met die plaaslike kwekerye wat jou meer hieroor kan inlig.

Plant die plante wat die meeste water benodig nader aan die huis, waar dit beter van die reënwater wat van die dak afloop, gebruik kan maak. Stelsels is ook beskikbaar om die gryswater, afkomstig van jou bad, stort en wasbakke, te suiwer vir gebruik in die tuin. Voeg plante wat dieselfde waterbehoeftes het bymekaar. Op hierdie manier kan jy verseker dat die tuin nog meer watersuinig raak en dat sekere gedeeltes nie oor- of onder-benat word nie.

Clivias kan byvoorbeeld in halfskadu in een bedding geplant word waar dit in die vroeë lente vir ‘n kleur “ontploffing” sorg. Gedurende die wintermaande hoef hierdie lelies maar net een keer per week natgemaak word. Teen die tyd dat hulle blom, begin die bome ook gewoonlik bot en blare kry, wat vir meer skadu sorg en waterverdamping beperk.

Die skepping van eksotiese areas met natuurlike bome en plante laat ‘n mens soms vergeet dat jy jouself in die middel van ‘n droogte of droë landskap bevind.

Gaan Google gerus “water wise gardens” of “water slim tuine” vir meer wenke aangaande water slim tuine wat jy op jou spesifieke tuin kan toepas.