Nog ‘n vragmotor oor aansluiting

‘n Vragmotor met sy vrag lê onderstebo langs die spoorlyn by die Thabazimbi/Lephalale aansluiting by die Junction Sentrum op Thabazimbi. Die ongeluk het Dinsdagoggend 2 Augustus omstreeks 03:00 gebeur, presies ‘n week na ‘n soortgelyke ongeluk by dieselfde aansluiting toe ‘n vragmotor wat groente vervoer het, ook nie betyds by die robot kon rem om by die aansluiting aan te sluit nie en ook op sy dak te lande gekom het.

Die frekwensie van soortgelyke ongelukke by die spesifieke aansluiting raak al hoe hoër met die aantal vragmotors wat daardeur beweeg oppad na Lephalale of die res van Afrika. Die robot by die kruising was nog nie eens herstel nie en tydelike stoptekens is aangebring.

Die pad is eiendom van SANRAL en die munisipaliteit mag geen riffelstroke of spoedwalle aanbring nie. Franco Loots, DA raadslid van die Thabazimbi Munisipaliteit het onderneem om deur die DA-Thabazimbi tak, ‘n brief te skryf aan die betrokke organisasie om alle moontlike opsies aan hulle deur te gee.

Die afdraande is heelwat langer as wat die meeste vragmotorbestuurders besef. In plaas daarvan om aan die bo-punt van die steil gedeelte na ‘n baie laer rat terug te skakel, en die kompressieremme te gebruik sodra hulle dit aandurf, word blykbaar net die gewone remme gebruik. Indien daar nie na ‘n baie laer rat toe teruggeskakel word nie, kan daar nie verseker word dat daar voldoende drukking in die lugdrukreservoirs is om die remme deur die rempedaal te aktiveer om die vragmotor betyds by die aansluiting tot stilstand te bring nie.

‘n Gedwonge stop net na die Alma aansluiting waar vragmotors vir ten minste vyf minute moet stop om te verseker dat die lugdrukkompressors goed “opgepomp” is voordat hulle die laaste deel na die kruising aanvat, behoort ook oorweeg word. Elke ongeluk by hierdie aansluiting lei tot ‘n kragonderbreking in Thabazimbi aangesien die vragmotors gewoonlik ook die groot kragboks tref wat in die kruising opgerig is. Die dag is dalk ook nie ver dat daar tydens die besigste tyd motorverkeer in die kruising gaan wees wat tot groot menseverlies kan lei.