Onteieningswetsontwerp vasgevang tussen die hammer en die aambeeld

AfriSake sê in ‘n mediavrystelling dat hy die onlangse nuus verwelkom dat president Jacob Zuma die omstrede Onteieningswetsontwerp terugverwys het na die parlement, en versoek het dat daar aangedui word watter prosesse gevolg is met die aanvaarding van dié wetsontwerp. Hierdie kom ná AfriSake in Junie 2016, saam met ander burgerorganisasies, petisies ingedien het aan die presidensie om nié die wetsontwerp te onderteken nie. AfriSake het die wesenlikheid van die wetsontwerp bevraagteken, sowel as die proses wat gelei het tot die aanvaarding daarvan.

Armand Greyling, regs- en beleidsanalis van AfriSake, het gesê dat Zuma reg is om versigtig te wees om die wetsontwerp te onderteken, aangesien daar skynbaar teenstrydighede is in die prosesse van openbare deelname by beide die portefeuljekomitee van openbare werke en die nasionale raad.

Om die grondwettigheid van die wetsontwerp te bepaal, het AfriSake die regsopinies van drie van die land se topadvokate ingewin. Hul gevolgtrekkings was dat sekere aspekte van die wetsontwerp dalk nie met die doelwitte van die Grondwet ooreenstem nie, en dus in ’n hof op die proef gestel kan word.

“Zuma was korrek deur ag te slaan op waarskuwings wat ingedien is aan die presidensie, en AfriSake sien uit na die parlement se antwoorde aan die presidensie aangaande die proses wat gevolg is tot en met die wetsontwerp se aanvaarding.”