Bedrywige Wintersport vir HFM gedurende vakansie

HFM LogoHeelwat van HFM se leerders het tydens die vakansie die provinsie verteenwoordig as lede van provinsiale spanne. Spesiale vermelding word gemaak van Heinrich Hermann wat lid was van die Akademieweekspan.

Hy is tydens die laaste wedstryd as man van die wedstryd aangewys in die flank posisie. Verder is Heinrich ook aangewys as die beste voorspeler tydens die Bokkieweek en is hy gekies vir die span wat later vanjaar oorsee sal gaan speel.

Die o/18B Limpopo hokkiespan het met 5 HFM spelers in hul geledere ‘n brons medalje tydens hul kompetisie verower. Vir HFM was Stephanie en Tiffany Robbertse, Karien Snyman, Annmarie Schutte en Shelly Branders deel van die span.

Wat netbal betref is twee van HFM se dogters aangewys as kapteine van hul onderskeie provinsiale spanne: Vanessa Sherrrard vir die o/18-span en Nadia van Der Linde vir die o/17-span.

Sterkte aan die spanne wat nog verder in die derde kwartaal aan finale, uitspeelwedstryde en die Noordvaalkompetisie gaan deelneem.

FIETSRY

Tydens die afgelope vakansie het Dawie Grobbelaar, kranige fietser van Lephalale, goed presteer. Hy het in die Tour de Bos te Lephalale ‘n derde plek behaal in die kompetisie vir mans waarin 60 km afgelê is. Hierdie ren was deel van die Bosveldfeesprogram.

Dawie het ook tydens die SA Nasionale Kampioenskappe ‘n baie goeie negende plek behaal uit ‘n veld van 39 deelnemers.

KRIEKETTOERE

Gedurende die vakansie het HFM krieketspanne na Rustenburg gereis om daar deel te neem aan die toere te Sundown Ranch en Rustenburg Hoërskool.

Die o/15-spannetjie wat grotendeels uit graad 8’s bestaan speel drie wedstryde waarvan hul die een teen Garsfontein wen. Die ander twee wedstryde was teen die o/14 en o/15 spanne van Waterkloof.

Die Eerstes wen ook een van hul drie wedstryde. In die wedstryd teen Secunda teken Gareth Meyer 42 lopies aan.

Ander uitblinkers met die kolf in die wedstryd teen Hoogenhout was Nimroe Lategan (48) en Shaun Steenkamp (44).

HFM wen die wedstryd teen Ligbron danksy goeie bydraes deur Louis van Deventer met die kolf (52) en Zander Azar se se vyfkuns met die boulwerk.

Die liga skop op 30 Julie af met die eerste rondte wedstryde teen Ben Vorster. Die Eerstes speel tuis en die o/15’s reis na Tzaneen.