HFM se o/15 rugbyspan dring deur na Beeldtrofee

HFM RugbyPOLOKWANE – Die finaal van die Limpopo Hoërskole Provinsie rugbyliga het die naweek van 22 Julie by HTS Tom Naudé in Polokwane plaasgevind waar Hoërskool Frikkie Meyer deur sy o/15 en o/16-spanne verteenwoordig is. Op die ou end het sowel die o/15 rugbyspan as die 0/16 deurgedring na die Beeldtrofee kompetisie.

Die o/15 span het goeie konstruktiewe rugby teen hul opponent, Hoërskool Pietersburg, gespeel en uiteindelik geseëvier met 24–19. Ten spyte daarvan dat hul ‘n insinking laat in die tweede helfte beleef het, het hulle as Limpopo kampioene in die groot skole liga vir 2016 van die veld gestap. Timiswa Nemavhola van HFM is ook as speler van die wedstryd aangewys.

Die o/16-span begin goed teen Ben Vorster en hou die telling in die eerste helfte laag. Na ‘n onverwagte drie slaag die Vossies daarin om met reëlmaat punte aan te teken. Ben Vorster wen die wedstryd 19–3 wat die span dan naaswenners in die groot skole liga maak.

Saterdag, 30 Junie, speel beide spanne in die kwalifiserende ronde van die Beeldtrofee kompetisie. As Limpopo wenners kom die 0/15 span te staan teen die Valke se wenner, Springs Hugenote op Hugenote se velde. Die o/16’s speel teen die naaswenner van die Blou Bulle, Hoërskool Pretoria-Noord, op HFM se tuisveld aangesien die Bulle laer op die prioriteitslys lê as Limpopo.

Die wedstryd skop af om 09:00 op die A-veld te HFM en die skool nooi die gemeenskap om ook hierdie span te ondersteun op hul pad in die kompetisie.