Twee Grade van Moord: Wat sal die liefde doen?

Twee grade van moordDie Suid-Afrikaanse film Twee Grade van Moord, wat op 22 Julie 2016 in teaters landswyd begin draai, sien vir die eerste keer in dekades die geliefde akteurs Sandra Prinsloo en Marius Weyers saam op die grootskerm! Vir die inwoners van Thabazimbi hou dit die voordeel in dat hierdie film op 22 en 23 Julie ook by die Kunstegrot, gelyktydig saam met die landswye vrystelling ook in Thabazimbi vertoon word.

Aleksa Cloete (Sandra Prinsloo), is ’n bekende Kaapse sielkundige met ’n topverkoperboek, Liefde Maak Nie Seer Nie, wat haar intellektuele standpunt oor die liefde onderskryf, hoewel haar lang en gelukkige huwelik met Ben (Marius Weyers) dit weerspreek. Hul enigste kind, Christiaan (Roelof Storm), moes in sy grootwordjare staatmaak op die liefde van sy “tweede ma”, die lojale huiswerker Fy Abrahams (Shaleen Surtie-Richards). Aleksa onderneem om deel te wees van ’n dokumentêre werklikheidsreeks, waarin daar gefokus word op haar terapeutiese werk onder vroue wat liefde met pyn verwar, en een van haar pasiënte, Tanya Basson (Hilda Cronje), stem in om die proefkonyn te wees.

Ben kry ’n massiewe hartaanval en Tanya kom terselfdertyd by Aleksa se huis aan met die nuus dat sy haar kêrel tydens ’n gewelddadige argument vermoor het. Aleksa besef dat sy Tanya se emosionele toestand heeltemal onderskat het en op dieselfde tyd deel Ben haar mee dat hy ’n belangrike besluit oor sy eie toekoms en lewe geneem het. Soos wat die verhaal vorder word Aleksa gedwing om haar eie integriteit te bevraagteken en ook haar bereidwilligheid om opofferings te maak vir dié waarvoor sy lief is. Op die ou einde moet sy die vraag antwoord: Wat sal die liefde doen? Vervaardiger Barry Strick sê: “Hulle het in nog net vier films saam verskyn, waaronder die bekende The Gods Must Be Crazy in 1981. Die laaste keer wat hulle saam in ’n film gespeel het was in 1989, wat Twee Grade van Moord ’n langverwagte reünie van die twee uitmuntende akteurs maak, ’n mylpaal in Suid-Afrika se filmgeskiedenis.”

De Kat-tydskrif het Prinsloo genoem as een van die honderd mees invloedryke mense in Suid-Afrika, en sy het ook die toekenning vanaf die SA Akademie vir Kuns en Wetenskap ontvang vir haar lewenslange bydrae to teater in Suid-Afrika. Meer onlangs het sy ook haar eie geselsprogram, Sandra op ’n Drafstap, op kykNET aangebied, waarin sy met prominente Suid-Afrikaners onderhoude voer. Weyers het reeds in meer as 35 vollengte films en 100 teaterproduksies opgetree. Sy krediete in vollengte films sluit in: Warner Bros se Blood Diamond (Edward Zwick), Catch a Fire (Phillip Noyce), Red Dust, Stander, en moontlik sy bekendste Suid-Afrikaanse rol, in Katinka Heyns se film Paljas. Hy het talle toekennings gewen en is ook vereer met ’n medalje van eer vanaf die SA Akademie vir Kuns en Wetenskap vir sy bydrae tot teater. Die fliek sluit ook ander plaaslike gunstelinge in, soos Shaleen Surtie-Richards, welbekend vir haar hoofrol in die 1988-film Fiela se Kinden as Ester (Nenna) Willemse in the M-Net- sepie