Saam kan DA en VF Plus ANC uit Tshwane se kussing lug

Adv Anton Alberts, VF Plus-burgemeesterskanididaat in Tshwane, het inwoners aangemoedig om saam met die VF Plus te staan en so te help om die ANC uit te skop. “Die tyd het aangebreek dat inwoners van Tshwane saamstaan en die ANC uit die kussings lig.” “Hierdie is ‘n geleentheid sodat die VF Plus saam met die DA ‘n koalisie kan sluit om nie net die ANC uit die metro te hou nie, maar ook die EFF,” sê adv Alberts.

Die ANC het die afgelope tyd geweldig onderpresteer en die een na die ander fout gemaak. Een so ‘n groot flater is die van die slimmeter-kontrak wat soveel finansiële druk op die stad geplaas het, dat Moody’s waarskynlik hul kredietstand gaan afgradeer. “Moody’s het aangedui hulle gaan binnekort ‘n aankondiging maak oor die metro se kriedietwaardigheid.

Die stap is waarskynlik die gevolg van die stad se hoë skuldsyfers, kontantvloei druk en die slimmeter kontrak wat duidelik ‘n kredietrisiko was. Tshwane het ‘n ongekwalifiseerde oudit van die ouditeur-generaal, Kimi Makwetu ontvang. Die ouditeur-generaal is bekommerd oor groot elektrisiteitverliese van R937 512 190. Dié syfer het met 18% in ooreenstemming met verlede jaar verhoog. Onvoldoende stappe is geneem om wanaanwending van fondse te verhoed.

Nog ‘n bekommernis is dat senior bestuur nie hul verantwoordelikheid nagekom het deur genoeg oorsig uit te oefen nie. Een van die grootste blapse, ten spyte van waarskuwing van die tesourie, het Tshwane ‘n maatskappy aangestel om slimmeters in elke huis en besigheid te installeer om so wanbetaling te probeer uitskakel.

Die projek is twee jaar daarna gestaak en miljoene belastinggeld is gemors. Die saak word tans in die hooggeregshof aangehoor.

Nog ‘n enorme finansiële flater was die samesmelting van twee aangrensende munisipaliteite by Tshwane wat geen voordele vir die stad inhou nie. Inteendeel die stad moes baie geld spandeer om die nuwe gebied se infrastruktuur te verbeter. “Die lys van ondeurdagte besluite deur die ANC beherende Tshwane-munisipaliteit is eindeloos en die tyd is ryp om dié wankelrige metro te red. Dit kan alleen gebeur wanneer daar ‘n gesonde span in beheer is,” meen adv. Alberts.