Groet die Grotheld raak elke emosie

THABAZIMBI – Die Super KunsteGrot op Thabazimbi was Vrydag volgepak vir die een-man vertoning “Groet die Grotheld”, uit die pen van Frans Swart, wat vooorwaardelik Suid-Afrika se “Klugkoning” is en ook die regie van die Grotheld waargeneem het. Hierdie is beslis nie ‘n opvolg op Groet die Grotman nie. Daar word wel van die oer-grotgewoontes, wat vandag nog steeds in alle families en verhoudings relevant is as basis en die tema vir die produksie gebruik gemaak. Hierdie grot verwys eerder meer na die “Man-grot” waar die manne saam kan bier drink en rugby kyk. Gert Struwig is die Grotheld. Gert is ook ‘n Bloubul en sy hele bestaan gaan om rugby – wat natuurlik lekkerlagtye tot gevolg het. Maar dan is daar ook ‘n kinkel in die kabel! Die robuuste spel rugby, word gebruik as metafoor om die vraag te beantwoord: “Is ek my seuntjie se held?” Die toneelstuk begin dan ook met ‘n TV opname van vier seuntjies wat stry oor wie se pa die beste en die grootste held is.

Gert Struwig, gespeel deur die briljante Cobus Venter, is ‘n rêrige-êrige Grotman. Hy is beslis nie ‘n metroman nie. Naas die Bybel, is rugby sy grootste aanwyser. Hy beplan sy braais, sy gesin, sy partytjies en sy gesin se aktiwiteite rondom rugby. Sy lewe draai om rugby. Sy helde is rugbyspelers. Sy bestaan is rugby. ‘n Eg tipiese Suid-Afrikaanse man! Skaterlag tye saam met die Grotheld en ‘n komiese kykie na Suid-Afrikaanse rugby. Dis so eg Suid-Afrikaans soos biltong, boerewors en natuurlik die Blou Bulle! Maar dan gebeur die lewe en Gert se bestaan word dramaties verander met sy eie vraag: “Is ek ‘n Grotheld?”

Die aand is afgesluit met ‘n heerlike bekertjie sop en sjerrie veskaf deur Hannes Coetzee, eienaar van Thaba Superspar.