Northam skud kleingeld los vir studente

SolidariteitSolidariteit Helpende Hand se nuwe studieleningsprojek vra nie veel nie. Inteendeel, die projek vra net die kleingeld in jou beursie. Die projek het reeds spaarbussies regoor Northam geplaas wat tot middel September 2016 daar gaan wees. Die geld wat deur die projek ingesamel gaan word, sal gebruik word om ’n kind uit die gemeenskap met ’n studielening te help.

“Hierdie projek help ook om die gemeenskap saam te snoer en ‘deel’ van ’n inisiatief wat ’n blywende impak en verskil in baie lewens kan maak, te laat voel,” sê René Laas, die takvoorsitter op Northam. “Die Studiefondssentrum sal dan ook elke rand wat ingesamel word, verdubbel tot ’n maksimum van R25 000. Ons tel elke sent, want elke sent tel DUBBEL!”

Daar word gehoop dat die spaarbussies genoeg fondse uit die gemeenskap sal genereer om ’n verdienstelike kind uit Northam met ’n rentevrye studielening te help. Elke dorp sal met die hulp van ’n keuringsproses die geleentheid gegun word om self te besluit watter kind by die fonds sal baat.

Spaarbussies is te vinde by Foodzone en Grasdakkies in Northam en ook by die Spar in Setaria. Lede van die publiek word gevra om die kleingeld in hulle beursies deeglik te los skud en die blikkies propvol te maak.

Helpende Hand se Studiefondssentrum het in 2016 meer as R31 miljoen uitbetaal om die drome van 1 291 studente te bewaarheid. Vir meer inligting oor die projek, of om uit te vind hoe jy by Helpende Hand betrokke kan raak, kontak gerus vir René Laas by 073 529 9411.

Studente wat om studiefondsondersteuning vir 2017 aansoek wil doen, kan tot en met 30 September 2016 aanlyn aansoek doen by http://studiefonds.propay.co.za