HFM Skole Nuus – Week 26

HFM LogoHFM Rugby – twee spanne deur na finaal – Die spanne van HFM het op Vrydag, 10 Junie, vertrek na Tzaneen om daar oor te bly vir die Limpopo groot skole finaal vir B-spanne en semi-finaal vir A-spanne. Die o/15 B-span wat vanjaar baie goed presteer het, het teen Ben Vorster in die finaal te staan gekom maar verloor 0 – 44. Die o/14 A-span trek goed weg teen die Vossies en loop halftyd 13 – 5 voor. Met die verlies van een van hul sterre, Anrich Basson, is daar ‘n swaai in die spel en hulle verloor 13 – 31 teen Ben Vorster. Die o/15 A-span sit hul goeie vertoning voort en wen gemaklik met 46 – 0 teen die span van Tom Naudé. Hulle kom in die finaal van die provinsie teen PHS te staan. Die o/16 A-span skop goed af teen PHS en hou die druk deurentyd vol. Hulle beklink die wedstryd met 26 – 10 en sal in die finaal teen Ben Vorster te staan kom. Die eerstespan staan in die eerste minute twee sagte drieë af, maar veg daarna verbete teen Ben Vorster terug om halftyd 26 – 19 voor te loop. Na halftyd slaag die Vossies daarin om foute aan ons kant uit te buit en punte aan te teken. Ben Vorster (tans 12 de op die rangleer in SA) wen die wedstryd 31 – 46, maar dit was verseker nie ‘n maklike wedstryd nie en hul moes hard werk vir die wen.
Die o/15 en o/16-spanne speel na die skoolvakansie op Saterdag 23 Julie in die finaal van die provinsie op die velde van HTS Tom Naudé.

Provinsiale Kleure HFM netbalspelers – Nog twee van HFM se netbalspelers het provinsiale kleure verwerf; by die o/14’s moes Kayla van der Merwe onttrek as gevolg van ‘n besering end it het die deur oopgemaak vir Ruvé Blaauw om opgetrek te word na die provinsiale span. Tydens die o/16 proewe te Polokwane het Michelle Simpson daarin geslaag om die provinsiale o/16 B-span te haal; ‘n span wat later vanjaar in KZN aan die nasionale toernooi deelneem. Op die rugbyfront is Awie Jordaan van die NWU/Puk week span opgetrek na die Akademieweek span. Baie sterkte aan hierdie spelers e nook die ander HFM leerders wat in provinsiale spanne opgeneem is.

HFM Hokkie – o/15’s deur na finaal – Twee hokkiespanne van HFM het op Jeugdag, 16 Junie, in die provinsiale kwalifiserende en wedstryde gaan speel. Die tweedes, afgerig deur me Lize Fouche, het ongelukkig in hul kwalifiserende wedstryd teen Ben Vorster vasgeval en het 1 – 4 verloor. Die o/15 A-span van me. Rensia Erasmus en mnr. Janco Meintjes het korte mette gemaak van Stanford Lake College met ‘n 3 – 0 wen. Hulle kwalifiseer om die eerste naweek na die vakansie teen Hoërskool Piet Potgieter in die finaal te speel. Geen finaal is ooit ‘n uitgemaakte saak nie, maar gegewe die feit dat ons Potties in die ligawedstryde geklop het, behoort ons ‘n goeie kans in die finaal te staan as ons al die geleenthede in punte omskep.