NETBAL HFM vs HOËRSKOOL SETTLERS

HFM LogoOp 24 Mei het vier spanne teen Settlers gespeel in die volgende rondte van die liga. Op een span na het die Frikkies die botoon gevoer. Die o/14 B-span van HFM het op die baan teen die o/14 A-span van Settlers gekompeteer en in ‘n baie gelykop wedstryd met ‘n goeie wentelling van 20 – 18 van die baan gestap. Die o/15A- en o/16 A-spanne van HFM oorheers in hul wedstryde en speel baie goeie netbal om gemaklik te wen. Die o/15’s wen 28 – 7 en die o/16’s bou voort op hul goeie vertoning met ‘n 30 – 6 oorwinning.

Die o/17 A-span kry egter die wind van voor in hul wedstryd en moes die aftog blaas teen ‘n kompeterende Settlers spannetjie wat die wedstryd  12 – 17 wen. Die laaste rondte ligawedstryde vir die Suidstreek ( netbal en hokkie) vind plaas op Saterdag 28 Mei op die velde van HFM. Baie sterkte aan alle spanne en afrigters – gebruik die geleentheid om nog ligapunte bymekaar te maak!

GHOLF UITSLAE

Die laaste rondte van die gholfliga het plaasgevind op 20 Mei te Groblersdal gholfklub. HFM se spanne speel teen Ben Viljoen en Ellisras se spanne . Die A-span neem deel in twee formate: medal matchplay en ook IPS matchplay.  Ellisras se A-span wen 3 -1 (medal) en 2½ – 1½ (matchplay) en die A-span van Ben Viljoen klop ons 3½ – ½ op beide formate. Hierdie verloor bring die A-span se liga tot ‘n einde vir 2016.

In hul wedstryde klop die B-span van HFM die span van Ellisras 3 – 1, maar hul speel ongelukkig gelykop teen Ben Viljoen: 2 – 2. Die ligapunte wat die B-span bymekaargemaak het, is ongelukkig nie genoeg om hul ‘n plek in die finaal te verseker nie en hul eindig in die derde plek vir die 2016 liga.

Die C-span van HFM wat vanjaar, buite een gelykop telling, nog onoorwonne is, het hul goeie vertoning voortgesit met ‘n 3 – 1 wen teen Ben Viljoen. Ellisras stuur punte en ons verdien dus 4 ligapunte. Die C-span speel op Vrydag, 28 Mei, te Polokwane in die finaal.

HFM RUGBYSPELERS IN PROVINSIALE SPANNE

Na afloop van die finale rondte proewe in die vorm van wedstryde teen die Valke op die velde van Hans Moore te Benoni is die volgende spelers opgeneem in die Limpopo Blou Bulle provinsiale spanne:

Chriszaan Strauss is opgeneem in die Cravenweekspan wat van 11 – 16 Junie te Kearnsney College deelneem. Drie van HFM se spelers is in die Akademieweekspan opgeneem: Heinrich Hermann, Thato Mbewe en Janki Melamu.  Hul kompetisie is in dieselfde tydsgleuf te Kearnsney saam met die Cravenweek. HFM het ook goeie verteenwoordiging in die o/19 PUK week span. Gerdus Botha, J.J. de Beer, Paul Vorkel en Awie Jordaan vorm deel van hierdie span wat van 26 Julie tot 1 Julie op die velde van die NWU deelneem.

Die o/16-groepe het ook ‘n ses spelers van HFM daarin: in die o/16 Grant Khomo span speel Dewan Deysel, Fani Baphiwe en William Thulare terwyl Erik Snyman, Victor Potgieter en Pieter Viljoen in die Noordvaalweekspan opgeneem is. Die Grant Khomo toernooi is van 4 – 8 Julie in Kaapstad. HFM het dus vanjaar 14 spelers in provinsiale spanne en ons wens hul alle sterkte toe. Hul verdien dan provinsiale kleure as hul beseringsvry kan bly en uitdraf…

HFM Junior seuns rukby - Provinisaal Voor: Victor Potgieter, Dewan Deysel En Pieter Viljoen. Agter: William Thulare, Mnr Pierre Van Jaarsveld, Baphiwe Fani En Erik Snyman.
HFM Junior seuns rukby – Provinisaal
Voor: Victor Potgieter, Dewan Deysel En Pieter Viljoen. Agter: William Thulare, Mnr Pierre Van Jaarsveld, Baphiwe Fani En Erik Snyman.
HFM Hokkie provinsiaal Voor: Stephanie Robbertse, Tiffany Robbertse, Mickayla Mulder, Shelly Branders, Megan De Aguar, Anmarie Schutte en Karien Snyman. Agter: Jolize Butler, Me Rentia Erasmus en Tacia Van Wyk.
HFM Hokkie provinsiaal
Voor: Stephanie Robbertse, Tiffany Robbertse, Mickayla Mulder, Shelly Branders, Megan De Aguar, Anmarie Schutte en Karien Snyman. Agter: Jolize Butler, Me Rentia Erasmus en Tacia Van Wyk.