Mokolo Krokodil wateraanvullings projek met boere bespreek

Mokolo DamTHABAZIMBI – ’n Inligtingsvergadering aangaande die Mokolo Krokodilrivier (Wes) Wateroordragskema waarby alle belanghebbendes wat hierdeur geraak word, meestal boere, wat deur pypleidings op plase tussen die Krokodilrivier en Lephalale geraak gaan word, is Woensdag in die Kumba Bioskoopsaal op Thabazimbi gehou.

Die vergadering is deur NEMAI Consulting, wat namens hul kliënte, die departement van Waterwese en Sanitasie en TCTA, optree, aangebied.

Waterbehoeftes in die Lephalale area sal volgens voorlopige studies die volgende 29 jaar drasties toeneem weens verskeie beplande en verwagte ontwikkelings geassosieer met die Waterberg Steenkoolvelde. Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) het die MKWAP-uitvoerbaarheidstudie uitgevoer om opsies vir die voorsiening in die waterbehoeftes te ondersoek. Die studie behels ‘n wateroordragskema vanaf die Krokodilrivier (Wes) by Vlieëpoort naby Thabazimbi na die Lephalale-gebied. Die infrastruktuur verbonde aan die oordragskema behels die volgende: ‘n Stuwal en onttrekkingswerke by Vlieëpoort; Balanseerdamme, ontslikkingswerke en ‘n hoëdruk-pompstasie; ‘n Drukbreekreservoir; ‘n Operasionele bergingsdam; en ‘n Leweringstelsel wat bestaan uit ‘n gravitasiepyplyn (ongeveer 30 km) vanaf die operasionele bergingsdam na die Steenbokpan-gebied.

Die Departement Water en Sanitasie se inligting is dat die voorgemome Petrol uit steenkool projek wat op Steenbopan beplan was ook nie meer gaan plaasvind nie.

Buiten die wateroordragskema is grootmaat kragvoorsiening na die projek se pompstasies in die gebied ook bespreek waar mnr Donavan Henning as verteenwoordiger van NEMAI Consultants  die skema wat op hierdie stadium beoog word voorgelê het. Aangesien implementering van die hele projek oor die volgende 10 jaar sal geskiet, sal gereelde vergaderings met boere gehou word. Een van die grootste probleme wat nog aangepak moet word, is om die impak op sensitiewe areas te identifiseer in  ’n korridor van 100m wyd,50m aan weerskante vanaf die middellyn van die pyp. Die pyp  wat ongeveer  twee meter in deursnee is, sal in n serwituut van 40 meter geïnstalleer word om die groot masjiene wat gebruik word te akkommodeer. Die pyplyn sal oor 170 kilometer strek, vanaf  Vlieëpoort, in die omgewing van Hanover. Hiervandaan word twee moontlike roetes oorweeg. Die een volg ’n roete verby Paarl en die ander een langs Mecklenburg en sal die Sentrumpad in die omgewing van Zondagskuil en Leeubos bereik.

Indien die pypleiding onder bestaande besproeiingslande moet gaan, sal dit diep genoeg moet wees sodat die bokant van die pypleiding minstens 1,2 meter onder die grondoppervlakte moet wees.

Aangesien die serwituut langs provinsiale paaie nie onderhandelbaar is nie, beteken dit dat die pypleiding op boere se plase gebou moet word. Dan is daar nog die Matlabas en Mamba riviere, wat uiters sensitiewe elemente bevat, wat ook oorgesteek word. Aangesien brûe oor hierdie riviere onooglik is en die natuurskoon waarop baie wildboere in die omgewing baie heilig is, word dit oorweeg om die pypleiding onder die rivierloop deur te tonnel.

Studies is gedoen om die bestaande watervoorsiening in hierdie gebied tot verby Makoppa nie te beperk nie. Met die groot stedelike ontwikkelings in die opvangsgebied, soos Pretoria en die noordelike dele van Johannesburg asook ander riviere wat die Krokodilrivier voed, word ’n groeiende afvloei van behandelde riooluitvloeisel  in die Krokodilrivierstelsel losgelaat.

Henning het ook genoem dat daar reeds verskeie sulke wateraanvullings skemas bestaan. Die damme in hierdie gebied wat as voedings bronne sal dien is die Hartbeespoort-, Roodekoppies-, Klipvoor en in ’n mate die Vaalkopdam. Dit is ook nie onmoontlik dat water in die toekoms uit die Vaalrivier onttrek sal word om in die behoefte te voorsien nie.

’n Stuwal van tussen 4 en 6 meter hoog sal by Mooivallei gebou word waar die projek verskeie grondeienaars gaan beïnvloed. Die projekspan beskik ook nie op hierdie stadium oor al die eienaars se besonderhede nie aangesien van die eiendomme reeds ’n paar keer van eienaar verwissel het.

’n Balanseerdam word in die omgewing van Leeubos beplan, vanwaar dit met drukpompe tot n reservoir op Rooidam gepomp sal word. Hiervandaan loop dit langs Tarentaalpan tot teen die treinspoor tussen Thabazimbi en Lephalale.

Voor hierdie in aanvang geneem word, is daar baie sake wat nog uitgesorteer moet word soos byvoorbeeld die verkryging van grond en kompensasie aan die eienaars.

Henning het dit beklemtoon dat plase nie besoek sal word sonder die uitdruklike toestemming van die eienaar nie.

Nog baie vergaderings sal gehou word deur kleiner groepe waar moontlike probleme wat mag opduik om die tafel bespreek sal word.

Sommige eiendom mag verder geraak word deur leengroewe sowat elke 5 km uitmekaar om grond te onttrek tydens die konstruksiefase. Behoorlike rehabilitasie beplanning sal ook deel van die projek uitmaak.