Nou nog makliker

6a00d834515c5f69e201901ecb168f970b-800wi

Met die digitale media, wat meer koste-effektief as die gedrukte media is, sal die situasie bereik word waar die gedrukte media vaarwel geroep word. Kwêvoël, wat nou net op digitale netwerke beskikbaar is, het ’n opening gelaat vir entrepreneurs wat hierdie gaping so graag wil vervul met ’n gedrukte koerant. ’n Koerant waar jy die papier tussen jou vingers kan vryf.  ’n Koerant wat jy oor en oor kan lees. ’n Koerant wat die oumense kan lees. ’n Koerant, afhangende van die papier waarop dit gedruk word, waarmee jy jou kar se vensters blink kan vryf, vuur mee kan maak en om die papegaai se hok uit te voer.

Dit is mos net die druk van ’n knoppie en die papier-gedrukte weergawe, spring uit die drukpers.

Ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie. Al word die koerant verkoop (jou daaglikse inskrywing op ’n koerant soos Beeld jaag jou sowat R4 500 jaarliks uit die sak) dek dit nie die prys van die papier waarop dit gedruk word nie. Daarom benodig koerante advertensie-inkomste om die koerant winsgewend vir die uitgewer te maak.

Advertensie-blaadjies en gratis koerante verwar die mark, aangesien die een nie nuus dra nie en, die ander nie plaaslik genoeg advertensies kan werf  om dit finansieel haalbaar vir die uitgewer te maak nie. Tog strompel hulle voort deur ’n totaal verwarde sakegemeenskap. Hiermee is Kwêvoël ook verlos van die ABC wat jou oplaag met ’n faktuur van jou drukker verifieer. Dit is geen bewys dat hierdie hoeveelheid koerante jou teikenmark bereik nie.

Kwêvoël het dit reeds makliker gemaak om aan die leser gratis nuus te verskaf  en aan die besighede, advertensies teen ’n derde van die prys te bied en boonop meer lesers bereik, as waarop die gedrukte weergawes hulself op beroem. Al wat jy hoef te doen, is om met jou e-posadres op Kwêvoël se webblad in te teken om die gereelde nuusbrief te ontvang. Daarmee saam ontvang jy ook daagliks nuwe opgedateerde nuusbrokkies wat jy uiteindelik in die Vrydag se uitgawes volledig kan lees asook addisionele foto’s wat verband met die berig hou. Baie van ons lesers het dit reeds ervaar met die beriggie op ons nuusbrief aangaande die herstel van slaggate in Thabazimbi deur AfriForum wat vandag op Kwêvoël se voorblad pruik.

Diegene wat steeds nie kan insien wat die digitale media se invloed op leser-getalle het nie, sien die aangehegte tabel van ons gereelde lesers wat die werklikheid van wie die koerant lees duidelik weergee.

Na 32 in diens van die gemeenskap moes Kwêvoël maar sy gedrukte weergawe terugsit in die nes waaruit dit gebroei het. Die jong kuikens het uiteindelik hulle beurt gekry om hul vlerke op die internet te sprei. Vlerke wat hulle baie verder as net Thabazimbi en omgewing neem.

Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël