HFM Versus Ben Viljoen Sportdag

Sports-in-school-bannerGROBLERSDAL – Die spanne en gemeenskap van Frikkie Meyer het op Saterdag, 23 April, opgeruk na Groblersdal om al daar teen die spanne van die Hoërskool Ben Viljoen deel te neem. Die kompetisie teen Groblersdal sou baie straf wees; veral op die hokkieveld – en die rugbyspanne was geensins van ‘n wen verseker nie. Ben Viljoen word in die Noorde hoog aangeslaan as veral hokkieskool en die tellings teen HFM het hierdie wete  bevestig. Uit die ses wedstryde kon HFM in drie gelykop speel en moes in drie die knie buig voor die Dallers. Die eerstes het aanvanklik ‘n mooi 2 – 1 voorsprong gehad, maar het in die laaste helfte van die tweede helfte 3 doele afgestaan om 4 – 2 te verloor.

Op die rugbyveld was die stryd hard en ongenaakbaar. HFM se junior spanne oorheers die kompetisie en die o/14’s en o/15’s wen gemaklik. Die o/16-span beleef meer van ‘n opdraande stryd, maar wen uiteindelik met 19 – 7. Met die senior spanne gaan dit egter nie so goed nie. Die Tweedes verloor teen ‘n gedetermineerde span en die Eerstes skep hoë verwagtinge toe hul binne die eerste minute agter die pale gaan kuier. Van daar het die spanne beurtelings punte aangeteken, maar die Eerstes van Ben Viljoen rond beter af om uiteindelik die wedstryd met 45 – 32 te wen. Vir die Frikkies was dit ‘n bitter pil om te sluk…

Die netbaldames was die uitblinkers van die dag en het agt van hul nege wedstryde met goeie tellings gewen. Dit is slegs die o/16A-span wat verloor teen sterk opponente. Die Eerstespan imponeer met goeie netbal en seëvier uiteindelik met 42 doele teen die 15 wat die Dallers kon aanteken. Die netbalspelers en hul afrigters het verseker die rit terug effens makliker gemaak! Die volgende amptelike ligawedstryde vir die netbal en hokkie is op 7 Mei op Thabazimbi se velde teen die Hoërskool Hans Strijdom.