Era verby met oud-Pionier se afsterwe

Tannie Kinnie le Roux, oud inwoner van Thabazimbi, is op 16 April oorlede.
Tannie Kinnie le Roux, oud inwoner van Thabazimbi, is op 16 April oorlede.
Tannie Kinnie en Oom Seeph op hul troudag
Tannie Kinnie en Oom Seeph op hul troudag

Een van die dorp se bekendste oud-inwoners, Tannie Kinnie le Roux (86) is op 16 April 2016 oorlede in die Groenkloof versorgingsoord in Groot Brak naby Mosselbaai.

Tannie Kinnie was die eggenote van wyle Seeph le Roux, Thabazimbi se eerste apteker. As jong getroudes het Tannie Kinnie en oom Seeph in die vroeë vyftiger jare hul intrek hier in die bosveld op Thabazimbi geneem. Die eerste apteek, Le Roux Apteek, was langs die kantore van JF van Graan Prokureurs oorkant die ou kragstasie teen die spoor, destyds die padverbinding tussen Thabazimbi en Rustenburg.

Later jare het die apteek na Vierdelaan Thabazimbi verskuif, in die perseel waar die woonstelle langs die ou Koffiehuis tans is. Oom Seeph en Oom Jannie van Graan, van JF van Graan Prokureurs het toe gesamentlik die gebou net onderkant die hof in Tweedelaan opgerig en die apteek en kantore daarheen verskuif. Dit was op dieselfde stadium dat Volkskas op die heel verste hoek van die gebou hul eerste tak in Thabazimbi geopen het. Toe die apteek verskoop is het die gesin na Plettenbergbaai verhuis. Die apteek het toe onder die naam van Bosveld Apteek na die destydse Checkers Sentrum (nou Shoprite) verskuif terwyl Medhof Apteek net oorkant die straat, deur hul seun Seeph en sy vrou Zoë bedryf is. Seeph het hom later as dokter bekwaam en hy en sy gesin is tans in Ierland woonagtig.

Tannie Kinnie sal onthou word vir haar talent (musiek, kuns, botaniese kennis, wye belangstelling in Suid-Afrikaanse- en wêreld nuus en wel belese), skerp intellek, fyn humorsin, liefde vir sport, kaartspeel, woordbou en wysheid wat haar besonders gemaak het. Daarby was sy gedurende die jare op Thabazimbi ‘n kranige rolbalspeler en minstens een keer ‘n jaar met haar agter die stuur van hul Volkwagen kombi, het sy en die robaldames pad gevat na die Oos Kaap waar die le Roux gesin ‘n vakansiehuis in Plettenbergbaai gehad het om daar bietjie rolbal te speel.

Haar opbouende en interessante geselskap was kenmerkend van almal wat haar geken het tot die einde van haar lewe. Sy het waarde toegevoeg tot haar familie en vriende se lewe en mooi spore nagelaat. Almal sal haar waardige teenwoordigheid mis, maar haar nagedagtenis sal aanhou voortleef en vir almal altyd kosbaar bly.

Haar afsterwe was die afsluiting van ‘n era as een van die laaste pioniers wat aan Thabazimbi gehelp bou het tot wat dit vandag is wat dit is

Die begrafnis was  Dinsdag 21 April om 11:00 vanuit die NG Kerk, Plettenbergbaai.