HFM netbaluitslae teen Ellisras

Perfect Goal
Perfect Goal

ELLISRAS – In die jaarlikse kragmeting tussen die twee buurdorpe het die wintersportspanne teen mekaar meegeding om die ‘kampioene’ van vanjaar te bepaal. Die wedstryde is op die velde van die Hoërskool Ellisras besleg.

Op die netbalbane het HFM, met die uitsondering van die o/14 B-spannetjie, koning gekraai in al die wedstryde. Die Eerstes het met ‘n goeie 35 – 20 oorwinning die kersie op die koek geplaas. Op die hokkievelde was dit egter eenrigtingverkeer en kon die Rassies nie die Frikkie Meyer golf troef nie. Frikkie Meyer wen al 5 wedstryde, die Eerstes behaal ‘n puik 10 – 0 oorwinning. Die Frikkies het slegs een doel in al die wedstryde afgestaan – ‘n bewys van goeie verdediging in die doelarea.

Op die rugbyveld het die o/14A-spannetjie van Ellisras hul goeie vertoning vanjaar voortgesit met ‘n gemaklike 47 – 12 oorwinning oor die span van Frikkie Meyer – beslis dié ligpunt in die Ellisras vertoning. Dit was egter die enigste wen op die rygbyveld wat Ellisras kon behaal en die res van die spanne moes die knie voor die Frikkies buig. Die rugby vlagskip het met 24 – 15 gewen in ‘n baie taai wedstryd waarin die Ellisrassers se veggees hul telkens teruggebring het en die uitslag nie ‘n uitgemaakte saak voor die eindfluitjie was nie.

Dit laat dan geen twyfel dat die Frikkies vanjaar die kroon dra nie – met 15 wenne uit 17 wedstryde. In retrospeksie is en bly hierdie ‘n kragmeting wat op die kalender sy plekkie moet inneem – getuienis van die buurdorpe se goeie gesonde kompetisie maar ook buurmanskap wat oor munisipale grense heen strek. Die volledige uitslae is op die HFM bakkiesblad beskikbaar.