Vermeende skakers betrokke by trok wat brand

‘n Foto wat geneem is vroegoggend toe die trok nog gebrand het. Foto: Lorentz von Czapiewski
‘n Foto wat geneem is vroegoggend toe die trok nog gebrand het.
Foto: Lorentz von Czapiewski

THABAIMBI – Motoriste is Saterdag 16 Augustus 2014 vroegoggend tot vroegmiddag begroet met ‘n brandende trok wat langs die pad oorkant Kumba Mynwerkswinkels gestaan.
Die brand is blykbaar vroeg Saterdag oggend, teen ongeveer 05:30 deur die brandweer geblus, maar die wind het die smeulende trok weer laat vlam vat. Volgens die polisie beweer die bestuurder van die trok dat hy teen ongeveer 01:30 die oggend deur vier vermeende skakers by die trok oorval is terwyl hy uitgeklim het om na die gerieflikheidswinkel oorkant die pad te gaan.
Die vier verdagtes het met die trok weggery. Die bestuurder se persoonlike besittings asook ‘n ongespesifiseerde bedrag in kontant was steeds in die trok.
Hulle het die trok slegs ‘n paar kilometer verder van die pad afgetrek en vermoedelik aan die brand gesteek waar hulle dit gelos het.
Niemand is in die voorval beseer nie en geen arrestasies is tot dusver gemaak nie. Dit is ook onbekend aan wie die trok behoort het en of daar enige vrag op was wat in die brand vernietig is. ‘n Saak van Voertuig skaking en kwaadwillige skade aan eiendom is deur die polisie oopgemaak. Die ondersoek duur voort.