Deurbraak in stryd teen renosters

Die wakker optrede van veldwagters by die Welgevonden-privaatwildreservaat buite Vaalwater het daartoe gelei dat die polisie ’n groot deurbraak gemaak het in die stryd teen renosterstropery in die Waterberg-omgewing.
Agt vermeende renosterstropers, onder wie ’n polisie-reservis van Johannesburg en ’n vrou, is op Saterdag, 16 Augustus, deur die polisie in hegtenis geneem. Sewe is daarna na die tronk op Modimolle geneem, waar hulle aangehou is.
Die agste beskuldigde, wat tydens ’n skietery tussen die veldwagters en die vermeende stropers gewond is, is per ambulans na die FH Odendaal-hospitaal op Modimolle geneem.
Kassie Knoetze, verbonde aan die Quemic-sekuriteitsgroep en sekuriteitshoof van Welgevonden, het aan Die Pos vertel dat veldwagters van Welgevonden die oggend mense teen die reservaat se lyndraad opgemerk het. Die mense is afgelaai deur ’n wit Nissan Hardbody-bakkie. Die veldwagters het dadelik lont geruik en besluit om ’n lokval te stel en die mense se gedrag dop te hou.
“Ná ongeveer 15 minute het drie vermeende renosterstropers Welgevonden sonder toestemming betree en ’n skietery het ontstaan toe veldwagters hulle probeer keer het. Een van die betreders is tydens dié skietvoorval gewond en die ander twee is kort daarna in hegtenis geneem. Hulle was in besit van ’n byl en ’n ongelisensieerd jaggeweer,” het Knoetze gesê.
Die Nissan-bakkie is volgens Knoetze kort daarna afgetrek in ’n padblokkade wat deur die Quemic-sekuriteitsgroep op ’n sekondêre pad in die omgewing van Welgevonden opgestel is. Nóg drie mense is vasgetrek.
Nadat die vermeende stropers ondervra is, het hulle glo met die sak patats vorendag gekom en inligting verskaf wat daartoe gelei het dat nóg twee mense in ’n Toyota Tazz op Vaalwater vasgetrek is. Hulle het glo op die ander gewag wat die renosterhorings sou bring. Die polisie-reservis was glo een van dié wat in die Toyota gewag het.
Die polisie het beslag gelê op ’n byl, knaldemper en ’n .375-jaggeweer waarvan die reeksnommer afgevyl is, asook die Nissan Hardbody-bakkie en Toyota Tazz. Knoetze, wat reeds die afgelope drie jaar sekuriteitshoof by Welgevonden is, sê dit is nie die eerste keer dat vermeende stropers hul rieme op dié reservaat styfloop nie. Lede van die publiek kan Knoetze bel by tel. 083 272 2342 indien hulle enige hulp nodig het om voorsorgmaatreëls teen renosterstropers te tref.
Sewe van die agt beskuldigdes het op Maandag, 18 Augustus, in die landdroshof op Modimolle verskyn. Die agste beskuldigdes is nog in die hospitaal. Hulle is André Chauque (41, ’n Mosambieker van Malamulele), Calvin Vurumani (35, ’n Zimbabwiër van Rustenburg), Matshidiso Bull Matlou (38, ’n Suid-Afrikaanse burger van Rustenburg), Isaac Kgampe (36, ’n Suid-Afrikaanse burger van Rustenburg), Reginald Sperepere (35, ’n Suid-Afrikaanse burger van Ga-Rankuwa), Bruce Masole (38, ’n Suid-Afrikaanse burger van Braamfontein), Zama Zulu (36 en ’n Suid-Afrikaanse burger van Kwa-Mashi in KwaZulu-Natal) en Alex Mashaba (26, vermoedelik ’n Mosambieker van die Winterveld). Zulu is die enigste vrou onder die klomp.
Hulle word aangekla van poging tot diefstal van renosterhorings, jag van spesiale beskermde wild, betreding met ’n vuurwapen, gewone betreding, die besit van onwettige vuurwapen en onwettige ammunisie.
Die saak is uitgestel tot Vrydag, 27 Augustus, vir borgaansoek. — Lin Nuus/Die Pos