Toekomstige volwassenes

Vir duisende jare word daar aan die jongmense voorgesê dat hulle die ouer geslag van die toekoms is en word hulle voorberei vir hierdie taak wat hulle reeds as jongmens opgelê word.
Selfs in Afrika is daar die inisiasieskole wat geslagte lank reeds die jong mans voorberei op hul rol as volwasse man, al was dit ook maar eintlik ‘n erkenning van sy manlikheid. Onderliggend het dit die saadjie geplant dat deur sy saad sal daar ‘n lewe verwek word vir wie hy die verantwoordelikheid het om sy kennis en wysheid oor te dra.
Ongelukkig is daar die afgelope 20 jaar niks aan die onderwysstelsel gedoen om die jeug, wat nou twintig is, enige nalatenskap te gee om van nou af hul plek as volwassene vol te staan nie, of ten minste in ‘n posisie te plaas om hom/haar in ‘n posisie te plaas om opgelei te word vir ‘n toekomstige loopbaan nie. In teendeel, die onderwysstelsel is sodanig afgetakel dat selfs dissipline uit die hande van onderwysers en skole geneem word om belhamels en ongedissiplineerde optrede vas te vat.
Dit is nie orals so nie maar dit word ‘n baie moeilike taak aangesien talle ouers beheer oor hul kinders verloor en van skole verwag om hul kinders maniere te leer. Skole word nie toegelaat om enige dissiplinêre stappe teen leerlinge te neem, buiten om hulle te skors nie. ‘n Manier sal gevind moet word om kinders op een of ander manier te vergoed vir goeie gedrag en voordele inperk om te dissiplineer. Om ‘n kind uit die skool te skors vir ‘n paar dae maak nie sin nie want kinders wat oortree, sien dit as ‘n voorreg om nie skool toe te gaan nie.
Ouers is in baie gevalle beide werkend en kan nie dag in en dag uit toesig oor die kinders behou nie. Indien die kind die pad byster sou raak, is die normale reaksie een van verontwaardiging en teleurstelling teenoor die kind. Fisiese aanrading is nie noodwendig uitgesluit nie. In party gevalle sal die kind juis aanhou met hierdie gedrag want dit is dalk die enigste aandag wat hy van sy ouers kry.
Niemand in Suid-Afrika se toekoms word deur die regering bepaal nie want hulle is besig met ‘n stelselmatige aftakeling van standaarde by alle instansies, nywerhede, skole en tersiêre inrigtings. Dit gaan dus slegs daarvan afhang van die manier hoe jy en jou gesin, die regering gaan oorleef. Die ouer geslag moet begin om verantwoordelikheid van hul gesinne en veral hul kinders te neem. Dit is nie genoeg om te sorg dat hulle skool toe gaan nie – dit is maar net ‘n deel daarvan. Kinders moet groot word met die besef dat hulle die volwassenes van more is.
Baie kinders word in enkel-ouergesinne groot waar die vrou, buiten om ma, kinderoppasser en huisvrou moet wees, ook die rol van inkomsteskepper moet vervul want die pa’s van die kinders skitter in hul afwesigheid en verantwoordelikheid.
Tensy kinders-bereid is om die juk van armoede en oorbevolking af te skud, sal die verhaal van armoede en agtergeblewendes vir altyd by ons bly.
Jy wat jouself nie in hierdie posisie bevind nie, dink diep hieroor en besluit of jy jou kinders deel van hierdie verlore generasie gaan maak, en of jy jou plig as ouer ernstig gaan opneem, maniere leer, veral teenoor hul maats, ouer mense en onderwysers en nie mense boelie om hulself teenoor ander te bewys nie.
Neem jou kind jou so in sy/haar vertroue dat jy hulle selfone ter enige tyd kan vat en nie teleurgesteld gaan wees in die tipe van materiaal wat jy daarop gaan aantref nie? Of stel jy in elk geval nie belang daarin wat hulle met hul selfone aanvang nie.
Die ouers wat die vertroue van hul kinders het, kinders wat weet dat hulle ouers hulle sal ondersteun in wat hulle vir die toekoms beplan, sal uiteindelik die beslissende faktor wees of Suid-Afrika se jeug met die toekoms vertrou kan word.