Drie in hof na moord

Beeld berig dat drie vermeende moordenaars van die bejaarde mnr Koos Jonker (79) waaroor Kwêvoël verlede week berig het, Woensdag in die landdroshof op Lephalale verskyn het.
Jonker wat in ‘n woonstel op die plaas van Ludwig Pauer in die Lephalale distrik gewoon het, se bebloede lyk is verlede Maandagoggend in sy woonstel gevind. Sy hande was met tou vasgebind en hy het verskeie kopwonde gehad.
Voordat die aanvallers op Jonker toegeslaan het, is daar by die huis van Pauer, sowat 300 meter vanaf Jonker se woonstel, ingebreek waar ‘n kamera en skootrekenaar gesteel is.
Kolonel Ronél Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Beeld gesê dat die drie verdagtes Maandag 11 Augustus naby Villa Nora in hegtenis geneem is. Sy het verder gesê dat die mans op aanklagte van moord en huisbraak in die hof verskyn het.
Volgens Otto is nog niemand in hegtenis geneem in verband met die moord op Christine Robbenson, eienares van Rra Ditau Safari Lodge, wie se lyk Woensdagoggend 30 Julie in haar woning aangetref is nadat sy hardhandig van kamer tot kamer gesleep is nie. Sy is uiteindelik dood nadat sy met ‘n mes in haar nek gesteek is. Heelwat kontant wat vir lone vir die werkers bedoel was, is na die aanval vermis.
Net so is ook niemand so ver in hegtenis geneem vir die ander twee mense wat in die vorige maand op plase en kleinhoewes vermoor is nie. Hulle was mnre Rudolph Pretorius (54), ‘n boer van Groblersdal, en Piet van Wyk (55) op sy kleinhoewe in die Letsitele omgewing.