30 jaar se kampioene

Ras & Senior kampioen Afrikaner bul: Pronk De la Rey, TK 653 van Pronk Afrikaners van Pieter en Elbie de Kock van Thabazimbi. (Hier met Javis Ramakoka).
Ras & Senior kampioen Afrikaner bul: Pronk De la Rey, TK 653 van Pronk Afrikaners van Pieter en Elbie de Kock van Thabazimbi. (Hier met Javis Ramakoka).

THABAZIMBI – Vir ‘n volle drie dekades produseer dr. Pieter en Elbie de Kock kampioene by die Thabazimbi skou.
Dis met trots dat Pronk Afrikaners vir dertig jaar ononderbroke hul beeste meet aan rasstandaarde en aan ander telers. Soos soveel kere het Pronk weer vanjaar die Ras Kampioen bul en koei geteel, naamlik Pronk De la Rey (TK 653) en Pronk Anika (TK 122). Alhoewel die bulle al etlike kere die titel van Interras-kampioen verower het, was dit vanjaar Anika wat vir die eerste keer vir Pronk Afrikaners die titel van Reserwe Interras kampioen vroulike dier ingepalm het.
De Kock, wat tans President van die Afrikaner Beestelersgenootskap is, is nog net so entoesiasties oor die ras as toe hy en sy vrou, Elbie 34 jaar gelede besluit het om kruisrasse vir die inheemse ras te verruil. Na die stoetery se aanvang op die plaas Sterkfontein naby Rooiberg, is Pronk nou een van die voorste stoeterye in die land.
Die basis kudde bestaan uit 200 koeie wat op die suur bosvled, Boshoff’s berg, loop. Die bulle word op die plase, Grootkuil en Rietfontein tussen Thabazimbi en Koedoeskop gehou, waar hulle fase D-toetse ondergaan en bemark word.
Huidig presteer die kudde as volg: Kalfpersentasie van meer as 80%. Speengewigte: Verse 208 kg gemiddeld; bulle 226 kg gemiddeld op 205 dae (7 maande) en kalwers se geboorte gewig: 32 kg.
Alle diere word prestasie getoets en bulle ook Fase D. BLUP-waardes word vir alle diere bygehou.
“Vir aangepaste, geharde, inheemse Sanga beeste met die sagste, sappigste vleis, is Afrikaner beeste jou antwoord, vir die Alles-in-een-bees van Suid-Afrka!” verduidelik de Kock.