Universiteite en Kultuur

Oor hierdie onderwerp het ek myself tot vervelens toe uitgelaat maar dit lyk asof hierdie konsep nêrens deurdring nie.
Kultuur groei uit tradisie, en tradisie is dus nie kultuur nie. Kultuur is die inwinning van kennis en die toepassing daarvan op die spesifieke gemeenskap wat hierdie kennis deel maak van hul kultuur. Skole en universiteite word dus uit ‘n kultuur gebore en nie uit ‘n tradisie nie.
Tradisie is, soos ek voorheen genoem het, iets soos veelwywery, wat deur ons eie president toegepas word, en eintlik nie deel uitmaak van die wet op veelwywery nie. Hierdie tradisie het in die Ou-Testamentiese tyd (vir diegene wat nie weet nie, dis die tydperk voor die koms van Jesus, nie sy wederkoms nie) by die Jode bestaan en deesdae by die Mormone , ‘n kerklike groep in Amerika voortleef. Daar was ‘n tydperk dat dit beslis deel van die kultuur van hierdie gemeenskappe was, maar soos kultuur gegroei het, en die bestaan van hierdie tradisionele praktyke nie meer deel van die ontwikkelende beskawing uitgemaak het, het dit weggeval aangesien kultuur voortdurend groei deur kennis, nie mag nie.
Die ou Romeine se tradisionele vermaak was in die Colosseum aangebied waar mense teen mense en mense teen diere, baie keer sonder verweer of wapen,.teen mekaar te staan gekom het. Baie mense het tydens hierdie vertonings omgekom. Hierdie tradisie het verander soos die kultuur verander het en hulle van hul barbaarse drange en tradisies ontslae geraak het.
Nuwe tradisies het die kultuur laat groei en niemand kan vandag aan die Italianers, die nasate van die einste Romeine anders dink as hul operahuise met die steeds van die beste operas wat tot vandag toe deel van die Italiaanse tradisie en in hul kultuur opgeneem is. Dit is nou maar so dat ‘n opera-storielyn volg min of meer dieselfde intrige. Een karakter steek ‘n ander karakter met ‘n dolk of iets en die gewonde karakter haar- of homself doodsing. Gewoonlik met ‘n hand geklem om die dolk en geen bloed wat meer vloei nie. Die barbarisme is uit die vertoning gehaal en niemand sterf eintlik nie. Dit is hoe kultuur groei.
Aangesien verskillende volkere en rasse verskillende tradisies wil handhaaf, bepaal dit uiteindelik die kultuur Die verskeidenheid van kulture is juis dit wat Suid-Afrika so uniek maak. Kulture uit eie bodem en gemeenskappe wat hul kultuur saam vanoor Suid-Afrika se grense saam gebring het. Die probleem lê by gemeenskappe wat tradisie as kultuur beskou.
Kultuur kan nie gekoop word, nie afgedwing word nie en ook nie geannekseer word nie. Dit hang van die individu self af hoedanig hy/sy bereid is om tradisies op te gee om by ‘n sekere kultuur in te pas. Kultuur kan nie soos verskillende soorte druiwe in net een parskuip met die voete fyn getrap word en geglo word dat dit die beste wyn van die druiwesap wat daar uitvloei, gaan lewer nie. Waar verskillende druiwe saamgepers word, sal dit sy eie unieke wyn lewer. Elke kuip lewer sy eie kultivar of versnyding as dit gemeng word, wat saam om een tafel aan al die gaste bedien word.
Dit wat nou op alle kampusse in die land gebeur is duidelike bewys hiervan. Die Universiteit van die Noorde gaan nog ‘n stappie verder en vernietig eerder fasiliteite ter opbouing van kultuur en hang eerder tradisie aan, die tradisie wat ontstaan het toe die regering algehele beheer oor onderwys verloor het.
Studente blameer steeds rassisme, want sekere dosente druip glo sekere studente op grond van ras (wie is nog so dom om dit op ‘n swart kampus te doen?), mediese studente staak reeds lank en weier ander studente om klasse by te woon, voertuie en geboue word aan die brand gesteek; en dan, die beste tradisionele optrede – die kampus word met vullis bestrooi.
Los eerder universiteite op hul eie kultuur standaard en laat die studente toe, ongeag ras, wat bereid is om op daardie spesifieke universiteit se kultuur standaard in te skakel.
Met slegs Afrikaans en Engels as die enigste twee wêreld-tale wat op universiteitsvlak aangebied kan word, sal taalprobleme opduik. Taal is ongelukkig deel van die Kultuur van elke universiteit – los dit dan in die hande van elke universiteit om hierdie probleem op te los, almal besef die dringendheid daarvan. Moet dit nie ‘n rasgedrewe ding maak wat tot die ondergang van die universiteit kan lei nie.
Die Universiteit van Limpopo het tradisioneel net swart studente en die enigste onderwystaal daar is Engels. Dit wys duidelik dat taal nie die probleem is nie, asook van wie die rassities-gedrewe onrus vandaan kom.

Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël