Diere en medikasie

Dis nou maar een eienskap van ‘n goeie ma: sy maak seker dat haar klein kindertjies nooit enige medikasie in die hande kan kry nie! Op al wat ‘n medisyne bottel of –pakkie is, word daar duidelik gesê dat medisyne buite die bereik van kinders gehou moet word. Ons almal weet ook dat mense nie mekaar se medikasie mag gebruik nie. Verseker sal niemand van ons ook medikasie van die koöperasie se diere-rak af vir onsself inspuit, of dit drink nie. Want dis vir diere!
Nou wonder ek net waarom in hierdie lewe, mense dan MENSE se medisyne vir diere gee? As ons nie hulle produkte kan gebruik nie, kan hulle mos ook nie ons produkte gebruik nie? Dis hoe ek dit verstaan…
Nou moet ek ook bieg, dat ek skuldig is aan die volgende punt: om medikasie van diere af weg te hou, net soos van kinders af.
Een middag het ek ‘n kwaai hoofpyn gehad. Met die uithaal van die pille vir my hoofpyn, het die botteltjie geval, en die hele kombuis het vol pille gerol. Ek het bymekaar geskraap wat ek kon sien en waarby ek kon kom, maar nie daarmee rekening gehou dat my vierpoot kindertjies se voetjies baie verder kon bykom nie. Hoeveel pille sy ingekry het, weet ek nie. My hart was baie seer, en ek was woedend vir myself – ons moes haar laat uitsit.
Verhoed daardie hartseer en selfverwyt, deur seker te maak dat viervoetige kindertjies nie enige van ons mens-medisyne inkry nie. Dit is dodelik gevaarlik vir hulle!

TAR