Baie vermaak by Landbouskou

THABAZIMBI – Gaan mens terug in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse platteland, was dit die sirkus, die “merry Go Round” en die dorp se Landbouskou wat die groot geleenthede was waar die dorpenaars en boere saamgekuier het.
Intussen het die dorpsfeeste bygekom wat in baie gevalle die landbouskoue en die mallemeule vervang het, en die sirkusse wat nog in omloop was, was maar baie afgeskaal teenoor die sirkusse soos wat ek dit as kind kan onthou.
Alhoewel ons hier in ‘n myngebied bly, is daar steeds baie boerdery bedrywighede in die omgewing. Genoegsaam om tog die landbouskou te regverdig. Dorpenaars kan gerus van die geleentheid gebruik maak om hul kinders na die landbou-afdeling te neem waar hulle beeste en al die ander vee en pluimvee wat op uitstalling is, van naderby te beskou. Die stadskinders kry eenvoudig net nie hierdie geleentheid nie. Moenie dat jou kind hierdie geleentheid misloop nie.
Die beeste, skape, boerbokke, hoenders en duiwe wat uitgestal word, word almal beoordeel. Gaan kyk gerus hoe die kampioen vee en pluimvee daar uitsien.
Buiten die vee uitstalling is daar ook die industriële gedeelte met swaarnywerheid implemente soos trekkers en grondverskuiwingstoerusting.
Vermaak is daar volop. Die Mallemeule sal die kinders besig hou terwyl pa en ma dalk ‘n lafenissie in die biertuin geniet.
Die babakompetisie wat deur Medhof Apteek geborg word, gee mens weer moed vir ons kinders se toekoms met die oulike en onskuldige gesiggies wat net ‘n kind kan hê.
Die verskeidenheid van kunstenaars is nie te versmaai nie.
Woensdag word die stalletjies opgestel. Vanjaar het die skoukomitee veral voorsorg getref om stof op die terrein te beperk met paaie wat spesiaal hiervoor behandel is.
Donderdag maak die hekke om 07:00 oop met die amptelike opening om 10:00.
Op die agenda vir Vrydag, buiten die beoordeling van die diere en stalletjies, is die wildveiling om 11:00.
Die eerste gasoptrede van die kunstenaars is om Vrydag 1 Augustus om 15:00 met Armand, die singende Cowboy. Diegene wat nog nie sy vertoning gesien het nie, moet dit nie misloop nie. Dit word gevolg met die vertoning deur die Friesperde. Om 18:00 kry die Teelepeltjies hul beurt as gaskunstenaars.
Jay tree op tydens die kroning van mej Thabazimbi Skou. Alhoewel al die tafels uitverkoop is, word stoele uitgesit waar mense ook die vertoning kan deel. Sitplek is ongelukkig beperk, wees dus vroeg daar of wees maar tevrede met ‘n staanplek.
Saterdag is vol aksie met selfs ‘n unieke skyfskietkompetisie na “Gongs” – daai ding wat “Gong” maak as jy dit met ‘n hamer slaan. Hierdie kompetisie word by die Koos Cronjé Skietbaan aangebied. Meer inligting hieroor kan by Gert Oosthuizen by 082 853 2054 verkry word.
Die groot aantrekkingskrag vir Saterdagaand is die optrede van Steve Hofmeyr. Toegang tot sy konsert beloop R50. Indien jy jou kaartjie na Steve se konsert by die hek wys, kry jy gratis toegang tot die skouterrein op Saterdag. Kry dus maar jou konsertkaartjies na Steve se konsert betyds by die skoukantoor.
Toegang tot die skouterrein beloop R50 per volwassene en R30 vir kinders en pensioenarisse vir die drie dae vanaf 31 Julie tot 2 Augustus.