Vier loop rieme styf danksy samewerking

Vele hande maak nie net ligte werk nie, dit het ook verseker dat nog vier vermeende renosterstropers agter tralies is.
Skaars twee weke nadat drie vermeende renosterstropers vasgetrek is by Eckland Safari’s, het boere van die Alldays-omgewing gewys hulle kan net so goed saamwerk toe hulle vier stropers op die plaas van mnr. Johan Kruger gevang het. Bure, vriende en die polisie het tot Kruger se hulp gekom, nadat ‘n dragtige renosterkoei op sy plaas gedood is vir haar horings en nog een gewond is.
Die vier verdagtes wat op Kruger se plaas aangekeer is, is tussen die ouderdomme van 36 en 41, maar hulle identiteit word weerhou op versoek van die polisie, omdat die ondersoek nog in ‘n sensitiewe stadium is. Drie van die vier het Maandag in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn, terwyl ‘n vierde, wat later aangekeer is, in die Seshego Landdroshof verskyn het. Drie is Suid-Afrikaners, terwyl een glo van Mosambiek afkomstig is.
Twee van die vier verdagtes is verlede Donderdag op ‘n buurplaas van Kruger opgemerk waar hulle onder ‘n boom gelê en slaap het. Nadat hulle op die vlug geslaan het, is ‘n massiewe soektog van stapel gestuur.
Kruger se prokureur, mnr. Hennie Erwee van Musina, het Donderdag, kort nadat die mans gevind en gearresteer is, bevestig dat die verhoorafwagtende Dawie Groenewald ook gehelp het met die soektog. Groenewald, wat ‘n goeie vriend van Kruger is, het sy eie helikopter beskikbaar gestel om die soektog vanuit die lug te doen.
Teen Donderdagmiddag is die net om die twee voortvlugtende verdagtes nouer getrek, en hulle is op Kruger se plaas gevang.
Provinsiale polisiewoordvoerder kol. Ronel Otto het bevestig dat ‘n .375 jaggeweer met ‘n knaldemper, ammunisie, ‘n bebloede jagmes en twee renosterhorings by die mans gevind is.
Ná nog verdere ondersoek is die ander twee mans vasgetrek. Een is glo die broer van een van die verdagtes wat op die plaas vasgetrek is en het die ontsnappingsvoertuig bestuur.
Alhoewel die arrestasies wyd verwelkom is, is dit lank nog nie die einde van Kruger se stryd nie. Die Zoutpansberger het vroeër vanjaar berig oor Kruger se jaarlange stryd met die Staat om die moratorium op die handel in renosterhorings opgehef te kry. Hy het ook ‘n aansoek gebring dat sekere dele van die Wet op Biodiversiteit se regulasies oor beskermde of bedreigde spesies hersien en ongeldig verklaar word. (LiN Nuus / Zoutpansberger)