Ry saam in die “Lion Mobile”

Nader as dit kan jy nie aan die leeus kom nie.
Nader as dit kan jy nie aan die leeus kom nie.

THABAZIMBI – Sluit die skoolvakansie gerus op ‘n hoë noot af deur bietjie weg te breek in die natuur.
Buiten Marakele Nasionale Park wat maar sowat 15km buite die dorp geleë is, en waar baie inwoners nog nie was nie, is daar ook die Marakele Predator Centre waar jy selfs in ‘n beskermde staalkas, wat agter-op ‘n voertuig gemonteer is, binne die leeukamp nog nader aan hierdie majestieuse diere kan kom.
Voedingstye is Sondae om 12:00. Al sou jy die voedingstye mis, is daar steeds die groot boskampe waar die leeus in aangehou word. Jy sal beslis ‘n paar van hierdie Koning van die Oerwoud te siene kry.
Op die roofdierlys is daar buiten die leeus ook jagluiperde, Bengaalse tiers, jakkalse, tierboskatte en rooikatte. Die kleiner diertjies bestaan uit coati beertjies, meerkatte en gebande muishonde sowel as vyf verskillende spesies van apies.
Toegang tot die kompleks beloop R100 vir volwassenes en R40 per kind. Kinders onder drie is gratis. Vir die ervaring om in die “Lion Mobile” te ry gaan dit R50 vir volwassens en R30 per kind addisioneel kos.
Kinderpartytjies word ook aangebied in die kinder speelarea en daar is selfs ‘n swembad indien jy bietjie sou wou afkoel.
Besoekers is ook welkom om ‘n koelboks te pak en te kuier in die braaiarea. Bring net jou eie hout en vleis saam.
Die Kompleks is sewe dae ‘n week oop , vanaf 08:00 tot 16:00.