Pad vorder, minister belowe en Sanral neem oor

Instandhoudingswerk aan die R516-pad tussen Bela-Bela en Thabazimbi vorder goed en sal moontlik voor Oktober voltooi wees.
TN Molefe-kontrakteurs se ingenieur, Aluwani Mulaudzi, het aan Die Pos gesê hulle sal waarskynlik teen volgende Vrydag, 25 Julie, die laaste 3km van die 8km waaraan gewerk is, voltooi. Hy het gesê Swanepoelstraat is steeds ’n kopseer vir die kontrakteur, motoriste en die owerhede omdat verkeer van Bela-Bela na Thabazimbi via Roodepoort herlei word sedert die projek begin het.
Daar is ook kommer uitgespreek oor die skole wat op Maandag, 21 Julie, open en ’n groot kopseer veroorsaak vir ouers wat hul kinders in Swanepoelstraat by Hoërskool Warmbad op- en aflaai. Die kontrakteurs het Swanepoelstraat, wat voorheen ’n eenrigtingstraat vir verkeer was, in ’n tweerigtingstraat verander vir die duur van die projek.
Mulaudzi sê wanneer die skole open, sal die kontrakteur poog om die R516-pad vir swaarverkeer oop te stel om verkeersdruk te vermy.
“Swanepoelstraat bly vir ons ’n probleem, maar ons is amper klaar met die werk. Ons hou gereeld vergaderings om die vordering te bespreek,” het Mulaudzi gesê.
André Vorster, wat op die hoek van Swanepoel- en Roodepoortstraat woon, het reeds vroeër aan Die Pos gesê hy is omgekrap omdat verkeer verby sy huis herlei word. Hy het gesê motoriste verontagsaam soms die stopstraat op die hoek, jaag en het reeds skade aan dié hoek asook aan sy eiendom aangerig.
Thabo Mothokwa, uitvoerende bestuurder van die Bela-Bela-munisipaliteit se afdeling vir paaie en stormwater, het vroeër aan Die Pos gesê indien voertuig skade veroorsaak is, weens die ompad, is die kontrakteurs kontraktueel verbind om die kostes daarvoor te dra.
TN Molefe herstel slegs die eerste 8km vanaf Bela-Bela. Dié projek beloop ongeveer R8 miljoen en die kontrakteurs is deur die Limpopo-padagentskap aangestel om die instandhouding te doen.
Die minister van vervoer, Dipuo Peters, het onlangs haar departement se begroting tydens die 33ste jaarlikse Suid-Afrikaanse vervoerkonferensie bekend gemaak. In haar toespraak het sy gesê dat R9,3 biljoen begroot is om provinsiale paaie oor die land te herstel en op te gradeer.
Sy het aangedui dat swak paaie wat ongelukke veroorsaak, lei tot ’n jaarlikse ekonomiese onkoste van R307 biljoen. Sy het gesê dit is van kardinale belang dat padveiligheid die sentrale punt op die departement se agenda word en haar departement het reeds aan die begin van Julie ’n nasionale slaggat-herstelveldtog in werking gestel.
Die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) het ook onlangs aangekondig dat hulle meer as 1500km se paaie in Limpopo as nasionale paaie verklaar het, wat nou onder Sanral se beheer is.
— LiN Nuus/Die Pos